Vrywilligers hou Vaal Teknorama Museumperseel in stand
Die FAK se kultuurnetwerke in die Vaaldriehoek het Saterdag (14 Mei 2022) broodnodige instandhoudingswerk by die Vaal Teknorama Museum in Vereeniging gedoen deur gras te sny, takke te snoei en onkruid uit te trek.
VEREENIGING. – Die FAK se kultuurnetwerke in die Vaaldriehoek en Vrystaat is nou al bekend vir die goeie werk wat hulle gereeld doen om die terrein rondom die Vredesmonument in Vereeniging se middestad in stand te hou.
Saterdag (14 Mei 2022) het die span, bestaande uit lede van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV), AfriForum (Vereeniging/Vanderbijl) en ander vrywilligers die gebied rondom die Vaal Teknorama Museum skoongemaak.

Die lang gras op die perseel gesny, bome is gesnoei en onkruid is uitgetrek.
Mens kan nou weer die lokomotief en lugafweerkanon, wat besig was om onder die lang gras te verdwyn, sien.
Vrywilligers het ook ontdek dat ’n swerm bye nes gemaak het in ’n ou lugafweerkanon op die perseel.

Die Vaal Teknorama Museum is ’n streeksmuseum van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit en huisves ook die distriksmunisipaliteit se Erfenis-afdeling.
Die Vaal Teknorama-museum spog met ’n interessante uitstalling wat die geskiedenis van die gebied uitbeeld.

Dit sluit inligting oor paleontologie, die steentydperk en ystertydperk, sowel as ander artefakte in.
Daar is ook uitstallings oor die moderne geskiedenis wat die storie van die totstandkoming van die dorpe in die Sedibeng-streek vertel, sowel as die belangrike mense wat ’n belangrike rol in die geskiedenis gespeel het.
Besoekers kan ook meer oor die industriële ontwikkeling van die streek leer deur die Erfenisuitstalling te besoek.
Daar is ook inligting oor die verskeie Erfenisterreine in die Sedibeng-streek wat verband hou met die Suid-Afrikaanse Boereoorlog van 1899 – 1902.

Die dorp Vereeniging en sy mense het ’n belangrike rol gespeel om die oorlog tot ‘n einde te bring.
Inwoners van die gebied was ook betrokke by nasionale en internasionale konflikte en uitstallings oor die Eerste en Tweede Wêreldoorlog vorm deel van die uitstallings by die Vaal Teknorama-museum.
Die Bevrydingstryd vorm ‘n integrale deel van die geskiedenis van Suid-Afrika en daar is ook ’n afdeling van die museum wat daaraan gewy word.
Die Vaaldriehoek het ‘n sentrale rol gespeel gedurende die oorgang na ’n demokrasie en by die museum kan jy ook meer leer van onder meer die Sharpeville-slagting in 1960 tot die ondertekening van die Nuwe Suid-Afrikaanse Grondwet in 1996.
Hoewel mense die afgelope tyd gekla het oor die instandhouding van die museum is daar nog steeds ’n magdom van interessanthede.


