Local newsNewsNews

Michael – biokinetikus met eindelose energie en empatie

Ons maak nader kennis met Michael Redelinghuys biokinetikus, sportafrigter en gesinsman.

VAALPARK. – Michael Redelinghuys het al diep spore in Vaalpark, Sasolburg en Vanderbijlpark getrap.

Vir baie is hy die een wat hul letterlik en figuurlik weer op die been gehelp het na ‘n beroerte, sportbesering of operasie.

Hy is bekend vir sy omgee hart, eindelose geduld met ‘n pasiënt en op en wakker geaardheid as hy sport afrig.

Jaco van der Walt en Michael Redelinghuys by Michael se biokinetika praktyk. Foto: Gerda Bruinette

Stilsit bestaan nie in sy boek nie. Selfs tydens die onderhoud sit hy en bene swaai. Dis sy knie wat hy desjare seergemaak het met muurbal, nou oefen hy om ‘n knievervanging af te weer.

Dis een van die redes hoekom hy gereeld die pad tussen sy huis in Vaalpark en sy praktyk in Vanderbijlpark aandurf met sy fiets. Van gevaarlike paaie wil hy niks weet nie, sy fiets het mos ‘n lig.

“My fietsrytyd is ook my stiltetyd. Op my fiets kan ek my kop uitsorteer en bid,” vertel hy ernstig.

Michael se sterk geloof kom al ‘n lang pad. Hy onthou toe hy en sy pa in die omgewing gery het om te kyk waar hy ‘n praktyk sal kan oopmaak, het hy dit ook ‘n saak van gebed gemaak.

“Ek en my pa het by een van die verkeersligte gestop,” onthou hy daardie dag in 1999.

“Langs ons het ‘n skoolbussie ingetrek met so ‘n groot man agter die stuur. My pa vra toe die bestuurder of ken hy vir PW Pieterse, want hy was saam met hom op skool. En hier kom ‘n man so van agter af en sê hy is PW Pieterse,” lag hy.

Die herontmoeting van twee ou skoolvriende het tot sy eerste plekkie by die hoërskool gelei waar hy sy praktyk kon begin in ruil daarvoor om hokkie af te rig.

Michael het ook op sy dag hokkie gespeel, maar ‘n ontydige besering het sy hokkieloopbaan gekelder.

Op hoërskool was hy ‘n hoogspringatleet wat die SA Skolespan gehaal het.

Michael is in Johannesburg gebore, maar het sy skoolloopbaan in Amanzimtoti begin en voltooi.

Daarna het hy ‘n sportbeurs gekry om Menslike Bewegingskunde (MBK) aan die destydse PU vir CHO te gaan swot.

As Puk was hy deel van Excelsior Manskoshuis en het hy ook vir die Pukke aan atletiek deelgeneem.

Om MBK te swot en daarna in biokinetika te spesialiseer was vir hom die logiese uitvloeisel van sy liefde vir sport.

Vandag volg sy twee seuns reeds in hul pa se spore. Michael (gr. 7) is besig om vinnig opgang te maak as hoogspringatleet, terwyl jong Rassie (gr. 5) op die krieket- en rugbyveld uitblink.

Elri (gr. RR) openbaar reeds dieselfde empatie as wat haar pa het teenoor sy pasiënte. Sy is die een wat gereeld ‘n pasiënt aan die hand sal vat en tot by die swembad sal help.

Michael glo daaraan om betrokke te bly in die gemeenskap en dien in Vaalpark Primêr se beheerliggaam waar hy ook verlede jaar as voorsitter gekies is.

Dan rig hy hoogspring af by Hoërskool Transvalia en êrens tussen alles kry hy steeds tyd om groot fietswedrenne aan te pak.

So het hy al sewe keer die Argus (nou bekend as die Cape Town Cycle Race) en agt keer die 94.7 gery.

Op die oomblik wag hy vir die finale goedkeuring om sy step down kliniek oop te maak by sy praktyk in Hendrik van Eck-boulevard.

Michael glo daaraan om ander te help waar hy kan. Hy het ‘n kleintjie dood aan onregverdigheid in enige vorm en dit is van die min dinge wat hom regtig kwaad maak.

Hy sit nie druk op sy kinders om te presteer nie. “Ek sê altyd jy moenie jouself met ander vergelyk nie. Vat klein stappies om kleiner doelwitte te bereik.”

“Jy is jou eie kompetisie. Maak seker jy is ‘n beter jy as gister. Dis wat saak maak.”

Back to top button