Local newsNewsNews

Gewigstoot-meester tree uit na glorieryke loopbaan

Die Vaaldriehoek se gewigstoot-meester, Reuben Smit (72), het besluit om dit halt te roep ná ‘n lang en glorieryke loopbaan op die atletiekbaan.

Smit, wat onlangs ‘n hartoperasie ondergaan en ‘n pasaangeër ontvang het, meen sy gesondheid is uiteindelik besig om hom in te haal.

Buiten hartprobleme het hy reeds een knievervanging ondergaan en moet hy binnekort ‘n tweede knievervanging vir sy ander been kry.

Hy kla ook oor jig in sy hande en voete.

“Dit maak my sommer depressief om op te hou, maar ek voel dat ek met die hulp van my ‘Skepper’ genoeg bereik het,” het Reuben verlede week aan Vaalweekblad gesê toe hy sy uittrede aangekondig het.

Reuben het op 4 Mei 72 jaar oud geword.

Hy het verlede jaar aan sy laaste kompetisie deelgeneem.

Reuben Smit in aksie op die atletiekbaan. Foto: Verskaf

Reuben het gedurende sy atletiekloopbaan altesaam 607 medaljes verower, waarvan 285 goud is.

Hy beskou die vier keer wat hy Springbokkleure verwerf het as die hoogtepunte van sy atletiekloopbaan.

Hy kan ook spog met een silwer en vier bronsmedaljes wat hy by die wêreldkampioenskappe verower het.

Dan het hy ook vier goud en een brons by die Afrika-spele verwerf.

Reuben was 34 keer die Suid-Afrikaanse kampioen in verskillende sportsoorte soos gewigstoot, werpskyf, hamergooi en vyfkamp.

Dit is veral in gewigstoot wat hy sy merk gelaat het.

In 2015, op 65-jarige ouderdom, het hy ‘n afstand van 12:59 in die gewigstoot gehaal, wat die vierde beste afstand in die wêreld was.

Reuben is nog steeds by afrigting betrokke.

Die kranige sportman is op 4 Mei 1950 in die myndorp Blyvooruitzicht gebore en het in 1967 aan Carletonville Hoërskool gematrikuleer.

Hy was van kleintyd af mal oor sport en het in ‘n verskeidenheid sportsoorte uitgeblink, danksy sy pa se afrigting en ondersteuning.

Hy is op 8-jarige ouderdom as Wes-Transvaal se Bokskampioen gekroon en het in sy jonger dae ook vir Wes-Transvaal, sowel as Transvaal se B-spanne as vaskopstut uitgedraf.

Reuben het gedurende sy atletiekloopbaan altesaam 607 medaljes verower, waarvan 285 goud is. Hy het vier keer Springbokkleure verwerf. Foto: Verskaf

Reuben vertel dat sy groot liefde vir atletiek op 14-jarige ouderdom begin het.

Hy het veral in gewigstoot uitgeblink en verskeie rekords laat spat. Sy o.16-gewigstootrekord by Carletonville Hoërskool het vir 12 jaar gestaan.

Reuben vertel dat dit as persoon vir hom die belangrikste is om ‘n Christen te wees.

“Ek is ‘n gesinsman en my huwelik met my vrou, Hannelie is my trots.

“Ek is baie erg oor al my en Hannelie se kinders, kleinkinders en honde,” vertel hy.

In Februarie 2000 het Reuben op 50-jarige ouderdom een van sy niere aan sy dogter Amanda, geskenk. Hy het ongelukkig twee van sy kinders weens nierprobleme aan die dood afgestaan.

Reuben Smit in Vaaldriehoekkleure op die atletiekbaan. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button