Local newsNewsNews

Skrywer in murg en been

Altyd lekker om 'n skrywer uit eie bodem raak te loop.

VANDERBIJLPARK. – JD van der Westhuizen is ‘n skrywer. Haar eerste boek, Avion – ‘n Weer begin, is reeds geruime tyd op die mark.

Sy het die boek geskryf as deel van haar terapie. Op papier. Stapels papier wat eendag deur ‘n vriendin raakgesien is en van daar deur ‘n redakteur onder hande geneem is.

JD met haar eerste gepubliseerde boek, Avion - 'n Weer begin. Foto: Gerda Bruinette

JD was baie verbaas toe sy hoor die boek is deur Malherbe Uitgewers gepubliseer.

Nou se dae wil sy net skryf. Die opvolg op Avion se verhaal is reeds geskryf, en sy is besig met ‘n aksie-riller in Engels.

Dan is daar ‘n besonderse jeugverhaal wat in haar kop broei en vra om geskryf te word.

JD skryf alles nog per hand en dan tik ‘n vriendin dit vir haar oor op ‘n geleende skootrekenaar.

“Ek skryf op elke stukkie papier wat ek in die hande kan kry. Ek moet net skryf,” vertel sy.

Haar liefde vir lees en stories skryf kom al ‘n lang pad. So ook haar geloof.

Dit was juis haar geloof wat haar destyds deur die hel wat haar kinderlewe was, gedra het, ook daarna toe sy op 18/19-jarige ouderdom haarself moes losskeur van heroïenverslawing.

Haar lewe was nog nooit maklik nie, maar sy het deur alles hoop behou. In elkeen van haar stories is daar groot stukke waarheid saam met verbeelding vervleg.

“Ek het begin gedigte skryf toe ek so 17 jaar oud was. ‘n Berader het my aangeraai om alles wat ek voel en ervaar ook neer te pen, daar het my liefde vir skryf begin,” vertel sy.

Haar fletsblou oë sien ver. Sy het empatie met die kinders, wilde katte en verdwaalde honde van die omgewing.

Sy gee wat sy het, want sy weet wat dit is om honger te gaan slaap, om verwerping te ervaar, om misbruik te word.

“Ek hou daarvan om mense te help. Ek wil nie hê jongmense moet doen wat ek gedoen het nie. Moenie gaan waar ek gegaan het nie, dis hel. Gaan soek hulp,” is haar boodskap aan kinders en jongmense wat met dagga en ander dwelms begin eksperimenteer.

Die lewe het haar al keer op keer probeer platslaan, maar sy staan elke keer weer op. Begin elke keer weer van vooraf.

Haar geloof hou haar aan die gang en haar passie vir skryf het haar asemhaling geword.

“As ek net meer in vrede kon skryf,” sug sy oor die buurt waar daar baie armoede en lawaai is.

“My grootste wens is om eendag my eie bakkie en karavaan te hê en langs die see êrens net heeldag te kan skryf.”

Tot dan skryf sy haar boeke met die hand en hoop sy dat Avion se verhaal ‘n daadwerklike impak sal hê op elkeen wat die boek onder oë kry.

Avion – ‘n Weer begin is tans beskikbaar by Malherbe Uitgewers en Bargain Books. Gaan na malherbeuitgewers.co.za vir meer inligting.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button