Emfuleni van een brandweerwa afhanklik
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het glo net een brandweerwa om die hele Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging te bedien.
EMFULENI. – Die nuwe brandweerwa wat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) in Januarie vir R5,4 miljoen aangekoop het, is glo die enigste brandweerwa wat die hele munisipaliteit moet bedien nadat diensverskaffers die ander drie brandweerwaens weens wanbetaling teruggeneem het.
Rdl. Gerda Senekal, Vryheidsfront Plus-raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê: “Die VF Plus stem nie saam met die munisipaliteit se besluit om R7 miljoen aan ʼn nuwe brandweerwa en brandweertoerusting te bestee nie.
“Die geld kon eerder aangewend gewees het om agterstallige skuld aan diensverskaffers terug te betaal en van die dorpe weer in besit van ʼn brandweerwa te plaas.”
Senekal meen met genoeg brandweerwaens en toerusting kan die 38 brandweermanne ʼn meer aktiewe rol speel in die beskerming van lewens en eiendom.
“Gemeenskappe word nou gedwing om hul eie watertrokke aan te koop en self brande te blus.
“Water word uit swembaddens en waterkrane getap, want met die enigste brandweerwa wat in Evaton gestasioneer is, is dit onmoontlik om te verwag dat die wa op verskeie plekke brande moet blus,” sê sy.
Volgens Senekal het brandbestryders ook probleme om brandkrane betyds op te spoor omdat min daarvan gediens en duidelik gemerk is.
“Emfuleni het ʼn groot plaas- en kleinhoewe-gemeenskap wat die gevaar loop om, juis nou met die brandseisoen op hande, skade te ly weens die munisipaliteit se wanbestuur van brandweerdienste.
“Hierdie onverstaanbare en ondeurdagte besluit van die administrateur van Emfuleni, Gilberto Martins, dien opnuut as bewys van die ANC se onvermoë om Emfuleni na behore te bestuur in belang van inwoners,” sê Senekal.

