Welkom in Vanderbijlpark, pastoor Gerard
Gebore Vrystaters met omgee harte - Die Botha's wil 'n verskil in Vanderbijlpark maak.
VANDERBIJLPARK. – Deo Credo gemeente in President Steynstraat het die maand hul nuwe presiderende pastoor, dr. Gerard Botha en sy vrou, Belinda verwelkom.

Gerard, soos hy verkies om bekend te staan, en sy gesin was die afgelope vyf jaar werksaam in Bothaville en voor dit het hulle in die bediening gestaan in Pretoria.
Die Bothas is eintlik Vrystaters vanuit Bloemfontein. Hulle is baie opgewonde oor hul nuwe tuisdorp.
“Ek glo die Here het ons geroep vir ‘n tyd soos nou. Hier is baie seer in die dorp en ek wil saam met ander kerke werk om die mense te bedien. Jy weet, ons kerke is nie in kompetisie met mekaar nie, ons moet saamwerk.”
Hy onthou hoe hy in Desember al gevoel het hy moet van rigting verander. “Ek het lank oor die saak gebid, maar nie geweet wat ek moet doen nie.
“In Januarie het ek weer ‘n boodskap gekry van, “nou is die tyd”. ‘n Maand later het ek die geleentheid gehad om in Vanderbijlpark te preek.
“Die Maandag het hoofkantoor my geskakel en gesê die Vanderbijlpark-gemeente het my beroep. Ek het twee dae gehad om hulle te antwoord,” onthou hy.
Gerard sê dieselfde aand het hy Sagaria 6:8 gelees wat sê: “Gaan na die land van die noorde.” Hy lag, “wel, Vanderbijlpark is vir my noord van Bothaville geleë.”
Die Bothas is al 30 jaar getroud en het twee kinders. Dian is ‘n politikus in Bothaville en hul dogter, Darinka is tans ‘n student in verpleegkunde in Potchefstroom.
“Jy kan vir Vanderbijlpark se inwoners laat weet ek het ‘n hart vir die gemeenskap. Jy hoef nie in my gemeente te wees vir my om uit te reik en te help nie. Ons is hier om hoop te bring,” gee hy die uitnodiging met ‘n breë glimlag.
Deo Credo is deel van die Pinkster Protestantse Kerk en die Vanderbijlpark-gemeente is vanjaar 50 jaar oud.
Een van die lekker vieringe hierdie jaar sluit onder meer ‘n spesiale Vadersdag deurry-ete in. Hou gerus die gemeente se Facebookblad dop vir meer inligting.

