Bekende sakeman van Vereeniging gegroet
Daar is Vrydag (20 Mei 2022) by Kariba Ranch afskeid geneem van mnr. Trevor Nienaber, 'n bekende sakeman van Vereeniging wat op 10 Mei skielik oorlede is.
*Die berig het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad van 18 Mei 2022 verskyn.
VEREENIGING. – “Hy was groter as die lewe self, maar nogtans ‘n nederige man. Moeilik by tye, maar altyd nederig.”
Dit is hoe mnr. Trevor Nienaber (74), ‘n bekende sakeman en filantroop van Vereeniging, se familie en vriende hom sal onthou.
Trevor, die eienaar van Kariba Ranch en Ver-Bolt, is Dinsdagoggend, 10 Mei skielik oorlede.
Volgens Trevor se seun, Darryl Nienaber, het hy sy pa Dinsdag na Mediclinic Vereeniging geneem om ‘n hartspesialis te gaan sien, toe Trevor op die hospitaal se trappe inmekaargesak het.
“Dit het omstreeks 10:20 gebeur. Ons was op pad om dr. Strydom Steyn, ‘n hartspesialis, te gaan sien omdat my pa bietjie olik gevoel het.
“Toe ons by die trappe kom het hy afgesak en gaan lê. Ek het geskree en binne sekondes was daar mense om te help.
“Die dokter het my pa meer as 10 keer met ‘n defibrillator probeer bybring. Elke keer wat hulle hom geskok het, het hy sy bewussyn vir omtrent 10 tot 15 sekondes herwin maar weer sy bewussyn verloor.
“Teen die 12de of 13de keer het die dokter na my gekyk en gesê hy gaan my pa nog een keer bybring en dat ek dan vir hom moet sê wat ek wil sê.
“Ek het vir my pa gesê ek sal mooi na my ma kyk. Ek het hom bedank vir die manier wat hy my grootgemaak het.”
Trevor is kort daarna oorlede.
Trevor is op 29 Februarie 1948 in Francistown in Botswana gebore. Hy het in Zambië grootgeword en aan die Gilbert Rennie High School in Lusaka matrikuleer.
Volgens sy vrou Zurika was hy baie trots op sy alma mater.
Min mense weet dat Trevor disleksies was. Hy het na skool na die Redan-kragstasie gegaan waar hy homself as ‘n passer en draaier gekwalifiseer het.
Dit is ook hier op Redan waar hy sy vrou Zurika ontmoet het.
Die twee is op ‘n vroeë ouderdom, op 26 Oktober 1968, getroud. Zurika was toe 18 en Trevor 21.
Trevor en sy vrou het later ‘n karavaan wat hulle besit het vir sowat R5 000 verkoop en in 1980 die maatskappy Ver-Bolt begin.
Ver-Bolt vervaardig boute en moere en voorsien ook hul produkte aan windplase.
Later het Trevor ook kleinhoewes langs die Kliprivier tussen Vereeniging en Meyerton opgekoop en in 2005 Kariba Ranch daar gevestig.
Kariba Ranch is ‘n onthaallokaal langs die Kliprivier met ‘n koffiewinkel, geskenkwinkel, konferensiesentrum en ‘n veevoerplaas.
Die plek is geskik vir verjaardae en byeenkomste en daar is ook trekkerritte.
Trevor sal waarskynlik die beste onthou word vir die liefdadigheidswerk wat hy in die Vaaldriehoek en elders gedoen het.
“Ons word nou nog oorval met boodskappe van mense vir wie Trevor gehelp het wat hul meegevoel betoon.
“Hy het baie vir ander mense gedoen maar het nooit daaroor gepraat of erkenning daarvoor gesoek nie,” vertel Zurika.
Trevor was nou by die Sedibeng Child Haven betrokke en was ook betrokke by die Rotariërs.
Hy het tussen 2008 – 2009 as die distriksgoewerneur van die Rotariërs gedien.
Hy het ook later by die Lions Club van Vereeniging aangesluit, waar hy ‘n gewone lid was.
Volgens Zurika was Trevor baie lief vir motors. Hiervan getuig die motormuseum by Kariba Ranch waar al die motors wat hy oor die jare versamel het, uitgestal word.
Die versameling sluit MG, Railton, Citroën, Ford, Jaguar, AC Cobra en Land Rover voertuie in.
Trevor was ook ‘n kranige atleet wat 11 keer die Comrades Marathon voltooi het en ook sy blou nommer by die Twee Oseane Marathon verwerf het.
Hy het ook aan heelwat marathons oorsee deelgeneem en was een van die stigters van die Rotariërs se jaarlikse fietstoer tussen Vereeniging en Durban.
Trevor het die reis die heel eerste keer saam met sy vriende, Arthur Doyle en Lloyd Gregory aangepak.
Hy het ook elke jaar by die jaarlikse Vaal Marathon uitgehelp.
Trevor word oorleef deur sy vrou, Zurika (71), sy kinders Darryl Nienaber (45), Mischelle Jolly (52) en Gerald Nienaber (50), sowel as sy kleinkinders, Cara Nienaber, Dyllan Nienaber, Trevor Nienaber (jr.), Goesh Nienaber, Seth Nienaber en Pascalle Jolly.

