Local newsNewsNews

Komberse voor die winter – doelwit bereik en oortref

Dankie aan elkeen wat die breinaalde en hekelpenne opgeneem het.

SASOLBURG. – Een van die velde van die DP De Villiers Stadion was kleurvol getooi op Woensdag, 11 Mei. Van ver af reeds kon mens die massa kleur sien van 140 komberse.

Die meeste van die komberse het bestaan uit blokke wat gebrei of gehekel was. Elkeen van die besonderse komberse het 240 blokke bevat wat met baie liefde aanmekaar vasgehekel is en daarna is die hele kombers omgehekel.

Van die mooie komberse van naderby. Foto: Gerda Bruinette

Anita Hanekom die projekorganiseerder het gesê sy het omstreeks ‘n jaar gelede besluit om breiers bymekaar te kry om 50 enkelbedkomberse voor die winter van 2022 klaar te hê.

Wat sy nie verwag het nie, was die entoesiasme van die breiers en kort voor lank ook die hakers (of hookers) soos die mense met die hekelpenne hulself noem.

Van heinde en verre het mense begin blokke brei en hekel.

Uiteindelik was daar meer as 45 mense wat saamgewerk het en uit die groep is 95 komberse klaargemaak. Hoe nader die groot dag gekom het, hoe meer mense het gegee.

Jackie Kleynjan met die komberse wat tannie Jacoba de Kock spesiaal vir die honde gehekel het. Foto: Gerda Bruinette

Tannie Jacoba de Kock woon in die Palms Aftreeoord en is weens siekte al bykans heeltemal blind. Sy het komberse gehekel wat sy gevra het aan Vaalpets geskenk moet word.

Die kombersies het deel uitgemaak van die mooi skouspel op die veld en is spesiaal deur Jackie Kleynjan kom afhaal.

Die res van die komberse is volgens behoefte aan verskeie organisasies oorhandig. Anita sê hulle het o.a 28 kniekomberse ontvang wat hul aan Môredou tehuis vir bejaardes geskenk het.

Gerda Woest van Helplif in Vanderbijlpark was baie dankbaar vir die 10 komberse wat hul organisasie ontvang het.

Ander instansies wat komberse kom afhaal het, het Earth Angels Unite, Annani, Lewenskruispad en ‘n kinderhuis op die kleinhoewes ingesluit.

Tien komberse is ook aan inwoners van Coney Island geskenk en dan het Lewenslig en NG Kerk Fonteine komberse ryker geword wat hulle gaan opveil om fondse in te samel.

Tyronne Niekerk wat onder behoeftige persone werk kon ook ‘n paar huis toe neem.

Elke instansie was baie opgewonde en dankbaar oor die komberse wat hul ontvang het. Van die mense wat so getrou gebrei en gehekel het, was ook teenwoordig.

Een en almal was dit eens dat hulle dit baie geniet het en uitsien daarna om aan te gaan met die projek. Soos Anita sê: “Ons begin nou weer by nommer 1.”

Onder die breiers en hakers heers daar ‘n gesonde kompetisie oor watter groep het die meeste gedoen.

Alta met een van die komberse waarvoor sy gehelp blokkies hekel het. Foto: Gerda Bruinette

Hulle het die afgelope klompie maande gereeld bymekaargekom om saam die naalde te laat klik en so is daar baie vriendskappe gesmee.

Enige een wat belangstel om saam blokke te brei of te hekel, kan gerus vir Anita kontak by 0825576399.

“Mense wat wil wol skenk kan my ook kontak asseblief. Heelwat van ons breiers kry net staatspensioen en dit beteken vir hulle so baie dat hul deel van die projek kan wees,” het Anita gevra.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button