LifestyleLocal newsNews

Botsing eis gewilde ‘motorfietsbroer’ op sy verjaardag

"Hy het geleef vir sy Mac’s-boeties, motorfietsry en sy familie. Hy was hardwerkend, het nooit opgegee op sy drome nie en het gestreef na wat hy in die lewe wou hê"

 

Soos berig in Vaalweekblad van 18 Mei 2022

VANDERBIJLPARK. – Lede van die Mac’s Motorfietsklub rou oor die dood van hul geliefde vriend en medelid, Henry van Heerden, verlede Donderdagaand.

Die botsing het op Henry se 36ste verjaardag op die R42 (Barragepad), net onderdeur die R59-brug in die rigting van Vanderbijlpark plaasgevind.

Die omstandighede rondom die ongeluk word nog ondersoek, maar dit blyk dat Henry en ander klublede vanaf Vereeniging na sy huis in Vanderbijlpark op pad was toe Henry teen die agterkant van ‘n motor vasgery het nadat dit skielik spoed verminder of in die pad gestop het. Henry het op die toneel gesterf. Een insittende van die voertuig is ook in die botsing dood.

Henry se neef, Porra Maartens, klublede en van die familielede was ook op die toneel.

Henry, wat in Vanderbijlpark grootgeword en sy skoolopleiding aan HTS Carel de Wet voltooi het, was ‘n werknemer van Veolia Water Technologies. “Hy het ‘n klein hartjie gehad en het bitter baie vir sy medemens omgegee. Hy was altyd vol grappe en kon ‘n glimlag op enigeen se gesig sit,” sê sy niggie, Marylee Teixeira.

Klublede en familielede sê in ‘n gesamentlike mediaverklaring Henry was “die grootste stoutgat en grapgat wat ons altyd op ons tone gehad het. Hy het altyd iets goed te sê gehad oor ander en het net geweet hoe om almal op te cheer. Hy het geleef vir sy Mac’s-boeties, motorfietsry en sy familie. Hy was hardwerkend, het nooit opgegee op sy drome nie en het gestreef na wat hy in die lewe wou hê”.

Buiten sy Mac’s-“broers” word hy oorleef deur sy pa, mnr. Henry van Heerden (sr.), susters Christine en Harrieth, skoonsuster Heidi, swaer Kobus en ander familie en vriende. Sy twee broers, wat ook in die afgelope jare oorlede is, en sy susters was sy grootste rolmodelle na wie hy opgesien het.

‘n Gedenkdiens sal moontlik op Saterdag 28 Mei plaasvind, maar die reëlings was teen Vaalweekblad se saktyd nog nie gefinaliseer nie.

 

Die wrakstukke van Henry se motorfiets op die ongelukstoneel.

 

Wyle Henry van Heerden, wat op 12 Mei op sy verjaardag in ‘n botsing op die Barragepad gesterf het.

****************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button