Hele “herwinningstasie” naby Vaalpark ontdek
Wie steek nou 'n herwinningstasie in die bosse weg? Behalwe as daar onwettige dinge ook aan't gebeur is.
VAALPARK. – Op 19 Mei 2022 het Public Eye patrolleerders in die bosse langs Welgelegen gaan ondersoek instel nadat hulle klagtes ontvang het dat iemand daar bly.
Groot was hul verbasing toe hulle ‘n hele “herwinningstasie” tussen die bosse ontdek, kompleet met ‘n goed ingerigte kamp. Daar het ook ‘n donkie rondgestaan met genoeg voer en twee waterbakke.

Hope gesorteerde plasties en karton het oral gelê, die gras was kort en ‘n pad was oopgesny. Maar, die tweespoorpad en die kamp kan glad nie van die hoofpad gesien word nie en is met takke versteek in die bosse.
Een man is op die toneel gevind. Hy het gesê hy bly al vier maande daar en dat hy vir ‘n persoon in Vanderbijlpark werk.
Op die oog af het dit gelyk soos ‘n herwinningstasie vir plasties, maar toe Public Eye te same met die mense van die munisipale bywet-afdeling die plek die volgende oggend deegliker ondersoek was hul stomgeslaan.
Daar was ‘n hoop elektriese kabel omhulsels. Dit was besonders goed weggesteek. Dit wil voorkom asof die kabels in Naledi gesteel kon gewees het.

Die gebied het die afgelope tyd deurgeloop onder kabeldiefstal, maar die verdagtes het elke keer net verdwyn. Dit kan wees dat hulle in die bosse kom wegkruip het.
Daar is ook ‘n spruit wat daar deur loop. Die spruit is heeltemal geblok. Die water het ‘n groen, vuil dam gemaak.
Die water syfer deur na die tonnel onder die R59 en loop in Ecopark in en daarna in die Vaalrivier. Van die mense wat op die toneel was, sê dis baie erge water besoedeling.
Die polisie en speurders is ontbied. Die donkie het intussen verdwyn. Die man is laas gesien waar hy sy trollie vol plasties voor die herwinningstasie in Vaalpark getrek het.
Uit die aantal klere en skoene wat op die toneel gevind is, is dit duidelik dat meer as een persoon daar gebly het en dat dit ‘n groot operasie was wat oor ‘n tydperk aan die gang was.
Teen Maandagoggend, 23 Mei 2022 het Public Eye berig dat die gebied in die nag skoongemaak is en dat bykans alles weggery is.
Daar word vermoed dat wie ook al vir die operasie verantwoordelik was, alles inderhaas verwyder het. Dis jammer dat die skuldiges dink hulle kan wegkom daarmee.
Die bywet-afdeling het intussen onderneem om die plek veral met betrekking tot die waterbesoedeling te gaan skoonmaak.

