Twee sit lewenslank na moord op Rhyno
“Dit is met skokkende wreedheid teenoor ‘n weerlose mens gepleeg terwyl die beskuldigde se minderjarige kinders in die huis was,” sê advokaat.

Soos gepubliseer in Vaalweekblad van 18 Mei 2022
SASOLBURG. – Die grusame moord op Rhyno van Niekerk (35) op 12 September 2020 het verlede Vrydag ‘n nadraai in die rondgaande Hooggeregshof in Sasolburg gehad toe twee leiers van ‘n bekende motorfietsklub skuldig bevind en gevonnis is.
Die moordenaars, Kelly Sephton (36) van Sasolburg en Raymond Edward Oosthuizen (43) van Eikenhof is deur regter Danita de Kock tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Sephton is ‘n bykomende vier jaar tronkstraf opgelê vir ernstige aanranding op sy vrou, Nasaskia, en op mnr. Richard Burkhardt, wat ten tyde van die voorval opleiding in tatoeëring by Nasaskia ontvang het.
Dit blyk dat ‘n beweerde liefdesdriehoek die motief vir die moord was. Sephton was daarvan oortuig dat Rhyno in ‘n verhouding met sy vrou, Nasaskia, was. Rhyno is die dag van sy dood deur Sephton in ‘n lokval gelei om na hul huis in Wepenerstraat, Sasolburg, te kom.
Volgens die klagstaat is Rhyno toe deur Sephton in die huis met ‘n hamer op sy neusbrug en oral aan sy lyf geslaan en daarna in die motorhuis deur Oosthuizen met ‘n opgerolde vullissak verwurg. ‘n Vullissak is ook oor sy kop getrek.
Hy is daarna in ‘n slaapsak toegedraai en die aand oor ‘n staalbrug by Oranjeville gegooi. Die moord het aan die lig gekom toe Burkhardt dit by die polisie gaan aanmeld het. Rhyno se liggaam is die volgende dag deur ‘n lid van die K9 Soek- en Reddingseenheid van Sasolburg in die water gevind.
Adv. Dansi Mpemvane, wat as staatsaanklaer opgetree het, het die moord as “afgryslik” bestempel. “Dit is met skokkende wreedheid teenoor ‘n weerlose mens gepleeg terwyl die beskuldigde se minderjarige kinders in die huis was,” het hy bygevoeg. Rhyno se bedroefde ma, Charlotte, het na afloop van die hofsaak aan Vaalweekblad gesê sy het geen kommentaar oor die vonnisoplegging nie. “My seun is vermoor. Ek het niks om te sê nie.”
* Sephton was die nasionale president van die Relentless-motorfietsklub en Oosthuizen die klub se president in Sasolburg. Verskeie motorfietsryers en klubs het op Facebook beswaar gemaak omdat daar na die skuldiges se betrokkenheid by ‘n motorfietsklub in die klagstaat verwys is, aangesien hulle meen dat dit geen belang by die moordsaak gehad het nie. ‘n Motorfietsgeesdriftige, Dave Mitchell, sê sodanige verwysings is irrelevant tot die moord en wek onverdiende negatiewe gevoelens teenoor motorfietsryers by die publiek. Hy sê gewelddadige optrede word glad nie deur motorfietsklubs of -ryers in die algemeen geduld nie.


***********************************************************************************

