Uit my pen – die week in Vaalweekblad
Hoe gaan dit met Handré Read? Wat maak die Lone Ranger se foto in die koerant? Lees hieroor en baie meer in die week se Vaalweekblad!
Woensdae is Vaalweekblad dag. Dan is die Vaal se gunsteling koerant weer beskikbaar by al die groot winkels en vulstasies.
Hierdie week is die koerant sommer ekstra vol. Twintig bladsye van lekkerlees.
Ek kan nou nie te veel sê oor waaroor my kollegas berig nie, maar hier is die een en ander oor die mense by wie ek gaan draai het.
Lees hoe gaan dit nou met Laerskool Vaalrivier se hoof, Henro Read en sy gesin na die ongeluk in April. Henro het goeie nuus met my gedeel rakende klein Handré.
Ek het ook ‘n draai gaan maak my Tannie Ralie Dippenaar. Sy is dalk nie ‘n gebore Valie nie, maar na al die jare is sy so deel van Vanderbijlpark soos pannekoek en jaffels op ‘n kerkbasaar.
Ons maak ook kennis met Lizay Koekemoer (7). Sy het ‘n passie vir dans en verteenwoordig eersdaags Suid-Afrika in Spanje.
In my rubriek, Ek sê maar net, verduidelik ek hoekom ek dink ons die Lone Ranger nodig het nadat ons buurt verlede week vir ‘n paar aande soos die Wilde Weste geklink het.
Ek wil nou nie skinder of paniek saai nie, maar ek dink julle gaan lekker lees.
Groete van huis tot huis en onthou nou om Woensdag die koerant te koop – joernaliste moet ook leef!
Ns. Die blokraai antwoord vir 2 Af is Dippenaar, maar moenie vir iemand sê ek het julle gesê nie.

