Gert – trotse Valie met ‘n passie vir die gemeenskap
Ons kuier die week by Gert Janse van Rensburg - ‘n trotse Valie wat alles met oorgawe aanpak.
VANDERBIJLPARK. – Gert Janse van Rensburg is ‘n besige kêrel wat die lewe met oorgawe aandurf. Hy volg nie in ander se spore nie, hy trap sy eie paadjies oop.
Aan sy geesdrif is daar geen einde nie. Hy is ‘n geswore Valie en trots daarop.

“Vanderbijlpark is die beste dorp in die wêreld,” beduie hy opgewonde op die dek van sy persoonlike boardroom (die boothuis) op die walle van die Vaalrivier.
“Die dorp sal weer regkom. Ons moet net saamstaan en die jongmense inspireer om hier te bly en op ons werk voort te bou,” verklaar hy ernstig.
Gert was in Vaalpark op laerskool, maar omstandighede het hom weggevat van sy geliefde Vaal om sy hoërskoolloopbaan in Secunda te voltooi.
Daarna het hy seker gemaak hy vind sy weg terug na die Vaaldriehoek. Hy het sy ambag in kleppe (valves) by Sasol voltooi.

Om die waarheid te sê, hy was deel van die eerste groep wat in hierdie rigting opgelei is by Sasol.
“Mense dink ek is net in die restaurantbedryf, maar ek is eintlik ‘n verkoelingstegnikus,” lag hy.
Na ‘n jaar in Engeland het hy teruggekom en sy eie besigheid oopgemaak. Dit is nou 21 jaar later en daardie eerste besigheid van hom is steeds op vol spoed.
“Ons het groot kontrakte tot sover as Tanzanië,” beduie hy.
In die Vaal is hy eintlik bekend vir sy projekte in die vermaaklikheid-en gasvryheidsindustrie. Die eienaar van The Bar with no NAME, Little Kingdom en die pragtige Benedetto on Vaal.
“Dit is my hobbies,” lag hy. “Ek pak projekte aan want dis vir my lekker en ek doen dit vir die gemeenskap. Ek wil hê die Vaal se inwoners moet plekke hê waar hulle kan ontspan. Waar gesinne bymekaar kan kom. Waar die kinders kan speel.”
Wanneer hy eers op ‘n projek besluit het, laat hy hom nie stuit nie. “Ek streef daarna om die beste te wees in alles wat ek doen.”
Sy heel eerste “restaurant” was sommer in die veld op die kleinhoewe, lank voordat Benedetto on Vaal die lig gesien het.
“Ons het dit Joachim se kombuis genoem. Die heel eerste keer het ons (ek, my vrou en skoonouers) vir 20 mense gekook. Toe ons weer ons oë uitvee, het dit ‘n maandelikse instelling geword waar ons tot 110 mense op ‘n slag hier in die oop veld kos gegee het. Ons het selfs sangers gekry om op te tree,” onthou hy.
Benedetto on Vaal is vandag ‘n eersteklas trouvenue met alles wat ‘n bruidspaar en hul gaste kan begeer.
“Ons het hierdie plek self gebou,” vertel hy trots. Gert is nie bang vir werk nie en spring gereeld self by The bar with no NAME in om alles te doen, van tafels skoonmaak tot kosmaak en kelner speel.
“Ek is net te stadig om die kroeg te beman,” lag hy.
Hy skud sy kop. “Ek gee regtig om vir ons Valies,” raak hy ernstig. “Jy weet, mense verloor moed. Hulle kry swaar, maar ek wil vir hulle sê, ‘n mens kan ‘n sukses maak van enige iets.
“Ek kom uit ‘n arm, arm lewe uit, maar ek dink buite die boks, vat kanse en werk baie hard. Ek is ook gelukkig om ‘n goeie ondersteuningstelsel te hê. My vrou Michelle, my skoonouers en al die personeel. Ons is ‘n familie.”
Gert het nog baie planne en projekte en is opgewonde oor die toekoms. Een ding is verseker, waar onse Gert is, is daar nie een vervelige oomblik nie.

