Ek sê maar net…
Rubriek. - Ek beroep my nou op die Lone Ranger, Die Skim, Superman of Chuck Norris om ons te kom red. Selfs Clint Eastwood sal doen, want verlede week het dit geklink soos die Wilde Weste in CW1.
Dit het geklink asof daar oorlog uitgebreek het. Dinsdagaand, 17 Mei het ons rustig gesit en Sondaarspoort kyk.
Volgende oomblik hoor ek iets wat al te veel na skote klink. Ek skrik myself buite weste en stuur ‘n boodskap na die bure. “Wat gaan in die straat aan?”
Kry gou genoeg ‘n boodskap terug, terwyl nog ‘n sarsie skote opklink. “Dis nie in ons straat nie, wel in Pasteur-boulevard. Ons rapporteer op die buurtwag groep.”
Blykbaar kom die lawaai uit dieselfde huis waar daar nou al vir jare so hard musiek gespeel word, dat ons huis se sitkamervensters daarvan vibreer.
‘n Kwartier later stuur buurvrou vir my ‘n stemboodskap wat iemand op die buurtwaggroep gelos het.
“Hi julle. SAP is bewus daarvan. Dis mense wat blykbaar gedrink is en skote afvuur. Dis niks ernstigs nie. SAP is daar…”
Wat? Van wanneer af is geweerskote in ‘n bewoonde gebied nie ernstig nie? Ek is nie ‘n wapenkenner nie maar van daai skote het vir my soos ‘n aanvalsgeweer s’n geklink.
Die SAP was beslis ook nie daar nie, want haar stemboodskap het om 18:45 deurgekom en vir die res van die aand het die skote kort-kort opgeklink.
Woensdag gaan in stilte verby en toe breek Woensdagaand aan. Ten eerste groet die area se krag.
Nee, dit was nie beurtkrag nie. Nee, ek weet nou nog nie hoekom die elektrisiteit vir ure af was nie.
Met die gebied in duisternis gehul, begin die skote ook weer.
My buurvrou stuur vir my weer ‘n stemboodskap van dieselfde vrou af. “Ja, hulle het gisteraand al begin. So dit is presies dieselfde mense.
“Dit het op ‘n ander crime groep deurgekom. Dit is presies dieselfde mense. Blykbaar was hul gedrink. Een van ons polisielede het toe die klagte gaan bywoon en hy het bystand gevra. Dit is nou maar die rede.”
Verder het sy toe gesê daar is baie polisielede teenwoordig in Pasteur-boulevard. Geklink hulle reken dit was ‘n roudiens wat so hande uitgeruk het.
Wel, of die polisie daar was of nie kan ek nie bevestig nie, want noem my nou maar eerder bang Gerda as dooie Gerda, ek gaan nie in die stikdonkerte uit om te kyk nie.
Uiteindelik het die skote opgehou, maar toe begin die geskreeuery en singery – vir ure. Oor die hoekom is niemand seker nie.
Die een sê die mense was kwaad, die ander sê dit was roubeklaers. Die lawaai was groot.
Vir my baie naby aan Herfsoord se hekke geklink en dus ook die hospitaal.
Donderdagmiddag breek aan en ons almal wonder. Wat gebeur vanaand?
Teen 14:30 bereik ‘n stemboodskap my, die mense wat so geskiet en lawaai het, het hul finale waarskuwing gekry.
“Daar sal teen hul opgetree word as hul nie gehoor gee nie.”
Ekskuus?! Wat se nonsens is dit?
Sover my kennis strek mag jy nie ‘n vuurwapen in ‘n woongebied afvuur nie.
Wat nog van ‘n klomp jolly skote twee aande in ‘n ry! Is die polisie bang vir die mense?
Nie eers Julius Malema is ontsien toe hy ‘n skoot in die lug afgevuur het nie, maar die lot kan maak wat hul wil.
Ek het Donderdag begin rondvra vir die regte mense se nommers om agter die kap van die byl te kom.
Het eindelaas by ‘n kolonel gedraai, wat te kenne gegee het hy weet van geen sout of water nie.
Hy sou na my toe terugkom het hy belowe.
Ek het geweet hy sou nie, nog voor ek die foon neergesit het.
Lekker plek die. Wie sou nou ooit kon raai dat CW1 in die Wilde Weste sou ontaard?
Al wat ons nou nodig het is die Lone Ranger om ons te kom red! Sela.

