Handré Read (5) – dit gaan al beter
Handré gaan baie goed aan. Ons wens hom en die res van die gesin 'n spoedige herstel toe.
VANDERBIJLPARK. – Laerskool Vaalrivier se hoof, Henro Read, het Maandag, 23 Mei in ‘n telefoniese onderhoud laat weet dat dit heelwat beter met die Reads gaan.
Die gesin was op 27 April in ‘n baie ernstige motorongeluk.
Van almal het die egpaar se middelste seun, Handré, die seerste gekry. Hy is per helikopter na ‘n hospitaal in Alberton gevlieg waar hy ‘n breinoperasie ondergaan het.
Die weke wat op die ongeluk gevolg het, was en is uiters spanningsvol vir die gesin, hul naasbestaandes en familie.
Handré, of Vinkie soos wat sy familie hom noem was vir baie lank onder sedasie gehou.
Dit het ook lank geneem voordat die spesialiste die gesin die versekering kon gee dat hy buite gevaar was.
Stadig maar seker het verbetering begin intree. Sondag, 15 Mei het Vinkie self begin asemhaal en is hy van die ventilator afgehaal. Toe het die lang proses begin om hom wakker te kry.
Groot was die vreugde toe hy begin “mamma” en “pappa” sê en begin vra vir water.
Hy het oor die naweek self begin eet en sy pa was baie trots op die mannetjie wat Maandag “baie goed geëet” het.
“Hy kan ook al met die fisio se hulp regop sit en vanoggend het hy selfs ‘n paar tree saam met die fisio geloop,” het Henro dankbaar vertel.
“Tot die saalsusters was baie bly en opgewonde toe hulle hom sien loop.”
Verdere goeie nuus is dat alle breinfunksietoetse goed afgeloop het. Die spesialis hoop om Handré binnekort oor te plaas na ‘n rehabilitasiesentrum in Johannesburg.
Op die oomblik is hy nog in die intensiewe sorgeenheid.
Intussen sterk die ander Reads ook goed aan. Karen verduur nog pyn weems haar drie gebreekte ribbes.
Hul oudste Juan moet ‘n verdere drie weke sy rug- en nekstut dra alvorens hy weer mag skool toe gaan en klein Sion (2) het al vergeet hy het ‘n haarfraktuur opgedoen.
Henro sê sy eie rug is nog baie seer, maar daar was nog nie tyd om daaroor bekommerd te wees nie.
Tans bly Karen en die seuns nog by haar broer in Kemptonpark om nader aan Handré te wees. Henro is terug by die skool en durf elke dag die lang pad tussen Sasolburg en Alberton aan om Vinkie en die res van sy gesin te sien.
Die Reads is baie dankbaar vir al die ondersteuning wat hul van die Vaaldriehoek kry en hoop om eersdaags weer almal tuis te wees.

