Local newsNewsNews

VF Plus stap uit ELM-vergadering weens ‘onwettige’ besluite

Die VF Plus het ʼn begrotingsvergadering van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) geboikot en uitgeloop weens die onwettige wyse waarop die ANC die bestaande aansuiweringsbegroting vir 2021/22 wou aanpas.

Die rede hiervoor is dat die speaker, Sibongile Soxusa, sonder om die wettige proses in die raad te volg waarvolgens alle politieke partye die begroting kan debatteer, die verdere aansuiweringsbegroting sonder enige debat goedgekeur het.

Die Emfuleni-raad het hiermee sy eie reglement van orde verbreek.

Die VF Plus het in reaksie besluit om nie deel te vorm van hierdie blatante onwettige optrede van die ANC-beheerde raad nie en het die vergadering uit protes verlaat.

Die verdere aanpassing op die bestaande aansuiweringsbegroting vir 2021/22 is onder meer gedoen omdat die ANC weens swak bestuur R120 miljoen wat geoormerk was vir munisipale infrastruktuur, nie bestee het nie.

Die bedrag is derhalwe deur die tesourie teruggeneem. Die verlies van R120 miljoen vir broodnodige infrastruktuur is skreiend gegewe die feit dat die Emfuleni-munisipaliteit reeds bankrot en onder administratiewe bestuur is met infrastruktuur wat in duie stort.

Daarby het die munisipaliteit op ander gebiede ook nie fondse bestee nie met die gevolg dat dit deur tesourie teruggeneem is.

Dit beïnvloed onder meer munisipale dienslewering met betrekking tot waterinfrastruktuur waarvan die begroting met R35 miljoen verminder is. Verder is die buurt-ontwikkelingtoelaag, die geïntegreerde nasionale elektrifiseringsprogram asook die energie-aanvraagtoelaag elk met R2 miljoen verminder.

In totaal het die Emfuleni-munisipaliteit ʼn bedrag van R161 miljoen weens blote onbevoegdheid en ʼn gebrek aan die uitvoering van bestuursplanne aan die tesourie afgestaan. Die ANC probeer dit nou op ʼn onwettige wyse herstel met ʼn wysiging op die bestaande aansuiweringsbegroting.

Die Emfuleni-munisipaliteit strompel so van een krisis na ʼn ander onder ANC-beheer.

Die VF Plus gaan vandag ook hierdie situasie onder die aandag van die provinsiale regering bring wanneer die Gauteng-wetgewer se plaaslike regeringskomitee vergader om ook die wanorde in Emfuleni-munisipaliteit te bespreek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button