Emerald se Storm kry baie liefde … en melk (7 liters per dag)
VANDERBIJLPARK. - Storm, die sewe weke oue kameelperd van die Animal World (Emerald Resort Safari), staan reeds heelwat hoër as haar mens mamma, Elana Smalberger.
Storm is op 9 April omstreeks 12:00 gebore, maar is dadelik deur haar ma verwerp.
“Die ma het die kalf net daar tussen die bome gelos en weggestap. Dit was baie vreemd en ons het dadelik geweet daar is groot fout,” vertel Elana Smalberger (bestuurder van die Animal World Dieretuin).
Daar is eers kans gegee om te kyk of die ma nie na haar kalf sal teruggaan nie, maar sy het nie.
“Ons moes toe die besluit maak om die kameelperdkalf te probeer red. Ons het haar net veilig opgelaai om te vervoer toe daar ‘n haelstorm uitbreek,” vertel Elana.
Vandaar kry Storm haar naam. Om sake te vererger is Storm se ma kort daarna weens komplikasies met die geboorte dood.

Daar moes gesorg word vir spesiale melk, en veeartsondersoeke en besoeke het gevolg.
Storm is nou ‘n gesonde, sterk kalf wat baie liefde en aandag kry.
Daar is selfs vir haar ‘n maatjie aangeskaf sodat sy nie alleen is terwyl Elana met haar ander daaglikse take besig is nie.
Rain, ‘n melkvers, is nou permanent deel van die Animal World-familie. Rain is goedhartig deur plaaslike melkboer Trevor Colby (River Dance Dairy) geskenk.
Die twee kalwe loop deur die dag saam in die huidige kamp rond, maar slaap saans apart.

“Dit is maar net om enige beserings te voorkom, want Storm is reeds baie groter as Rain en ‘n skop sal tot ‘n ernstige besering lei,” verduidelik Elana.
Daar word nou ‘n groter kamp met ‘n hek teenaan die wildspark gereed gemaak vir Storm en Rain.
“Die hoop is dat Storm oor so ses maande, wanneer sy gespeen is, deur die dag in die wildspark kan rondloop en dan na haar kamp kan teruggaan as sy wil,” sê Elana.
Maar tot dan sal Elana, bygestaan deur Lizinda Corbett (assistentbestuurder – nie wild) elke dag op ‘n leer moet klim om vir Storm haar bottel melk te gee.
Storm moet tans vier keer per dag haar bottel kry. Sy drink in totaal sewe liter melk per dag.
* Vaalweekblad sal lesers op hoogte hou van Storm en Rain se avonture.




