Lizay (7) dans haar weg oop na Spanje
Vaalweekblad hou duimvas vir hierdie talentvolle dansertjie van Vereeniging.
VEREENIGING. – Lizay Koekemoer is net sewe jaar oud, maar sy leef reeds haar drome uit. Die jonge dame was twee toe sy haar eerste dansles geneem het.
Vyf jaar later en sy blom op die verhoog. Dans is haar passie. Dis waarvoor sy leef.

Sy neem les in verskeie dansvorme, van hip-hop tot by ballet, jazz en kontemporêr.
Lizay se liefde vir dans is deel van haar gene. Haar ma Zandré, het ook ‘n dansagtergrond.
“Sy is al klaar baie beter as ek,” lag Zandré. Sy en pa Thys is baie trots op hul jongste wat al verskeie titels ingeryg het en nou op die punt staan om Suid-Afrika by die Dance World Cup Finals in Spanje te gaan verteenwoordig.
Daar gaan sy vir twee weke teen dansers van 62 ander lande deelneem.
“Hulle verwag by die 7 000 dansers by die wêreldkampioenskappe,” het Zandri gesê. Sy en Lizay vlieg 22 Junie Spanje toe.

Hulle gaan skaars terug wees, dan wag daar nog ‘n avontuur op die gesin.
Op 7 Julie vertrek Lizay saam met haar ouers en ouer boetie na Los Angeles in die VSA om aan die International Presentation of Performers-kompetisie (IPOP) deel te neem.
Die gehoor by IPOP sluit verskeie film- en TV regisseurs en vervaardigers in. Hier gaan Lizay die kans kry om haar dans- en dramatalent ten toon te stel.

Zandré sê Lizay oefen vyf dae per week en het verbasend baie deursettingsvermoë vir iemand van haar ouderdom.
Sy is ook ‘n veelsydige danser wat kreatief en op haar voete kan dink op die verhoog.
Sy het onlangs juis weer skoonskip by ‘n “Dance Show Off” gemaak.
By die Dance World Cup: South Africa in Pretoria is sy aangewys as die mees uitstaande mini solo danser vir die ouderdomsgroep 9 jaar en jonger.
Hierdie jaar het sy ook al eerste plekke in ballet, lyrical en jazz by die World Lyrical Dance Federation in die o.8 afdeling verower.
Lizay werk baie hard en het byna elke dag die een of ander dansles. Nes haar ouers, is haar afrigters, Tanya Fourie van Leap of Joy Dance Studio en Mario Gomes van Hip Hop Dance Studio, baie trots op haar.
Sy is gedetermineerd om ‘n sukses van haar dansloopbaan te maak. Wanneer sy nie besig is met danslesse nie, neem die besige bytjie ook klavier en dramalesse en doen pottebakkery vir ontspanning.
Sy is op haar gelukkigste as sy kan dans en sê haar senuwees pla glad nie voor ‘n groot kompetisie nie, want “ek dans vir Jesus.”
Lizay gaan Suid-Afrika met trots in Spanje verteenwoordig. Anders as ander sportsoorte, kry dansers nie finansiële ondersteuning of maklik borgskappe nie.
Indien enige een ‘n bydrae wil maak vir Lizay om aan die wêreldkampioenskappe te gaan deelneem, kan hulle vir Thys Koekemoer by 082 550 6884 kontak.

