Oud-Bijler terug in die Vaal om mense te help
Hy was deel van die 1989 Bijler matriekklas en nou is hy terug in sy tuisdorp om te help waar hy kan.
VANDERBIJLPARK. – Die Covid-pandemie het baie mense finansieel op hul knieë en intussen is daar konstante verhoging in pryse.
Mense raak agterstallig met paaiemente op hul huise en voertuie. Die ergste is dat die meeste mense te trots is om hulp te vra, of dalk te bang.
Johan Cronjé, ‘n ervare skuldberader, sê mense moenie op hul eie probeer aansukkel nie.
“Skuldberaders is juis daar om te help. Die eerste ding wat ek vir my kliënte sê is dat hul maar kan ontspan. Van nou af is hulle probleme myne en ek sal dit vir hul uitsorteer.”
Johan was in Laerskool Frikkie Meyer en het in 1989 aan die Hoërskool Vanderbijlpark gematrikuleer.
Na sy weermagdae en studies, het hy sy loopbaan in een van die groot banke se regsafdelings begin.
Mettertyd het hy besluit om sy eie onderneming te begin, maar in plaas daarvan om skuld in te vorder soos by die bank, wou hy mense help om hul begrotings te laat klop.
Dit is presies wat hy nou al sedert 2008 doen. Eers in Krugersdorp, maar soos baie oud-Valies maak, het hy na sy tuisdorp teruggekeer.
Sy kliënte is nie vir hom maar net ‘n nommer op papier nie. Hy loop ‘n pad saam met elkeen en hulle weet hulle kan hom in krisistye enige tyd skakel.
“Jy weet, die lewe gebeur. ‘n Mens kan begroot soos jy wil, maar soms gebeur ‘n onverwagse krisis wat ekstra geld benodig. My kliënte weet ek sal dan inspring en seker maak dat die begroting steeds klop en die hofbevel nagekom word.”
Hy sê hy is die tussenganger tussen die kredietverskaffers en die verbruiker.
“Min mense besef dit, maar die wet beskerm die verbruiker. Wanneer iemand by my aanklop vir hulp, is die eerste ding wat ek doen om met die persoon se skuldeisers te onderhandel.
“Wanneer hulle dan my voorstelle aanvaar vir betaling, word die saak na die hof verwys wat dan ‘n hofbevel uitreik waarvolgens die persoon dan sy skuld betaal volgens beter paaiemente.”
Johan sê dit is vir hom die belangrikste dat sy kliënte hul huise en motors behou en kos vir hul gesinne op die tafel kan sit.
“Dit is nooit te laat of te vroeg om vir hulp te vra nie. Hoe gouer, hoe beter.”
Hy onthou hoe ‘n man eenkeer by hom aangekom het met ‘n koerantadvertensie van sy maatskappy, Debt-In-Motion (Edms) Bpk.
Die stuk papier was behoorlik bemors. Die man het gesê hy was moedeloos, maar toe hy die voël se hok skoonmaak, sien hy die advertensie raak en hy het dadelik ‘n afspraak gemaak.
“Dit is vir my lekker om mense te help. Mense kan my op kantoor kom sien, maar die meeste verkies dat ek na hul huise gaan. Net waar dit vir hulle gemaklik is.
“Dit is altyd lekker om te sien hoe mense sommer beter lyk nadat ons die eerste keer gesels het, want hulle weet ek haal die las van hul skouers af,” sê Johan.
Skakel hom by 082 569 9749 of stuur ‘n e-pos na johan@blackginger1.co.za.

