Wat maak ‘n munisipaliteit goed, beter of beste?
Waar munisipaliteite se basiese bestuur faal, sal die ineenstorting van die dienslewering vinnig volg.

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, DA Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Die sukses van ‘n munisipaliteit word gereeld aan die visuele estetika van die area gemeet. Hoe mooi is die ingang tot die dorp of hoe kort is die gras gesny? Hoe goed versorg is die tuine en hoe skoon is die sypaadjies?
Dit maak sin want mens takseer mos die boek aan die buiteblad en die man aan sy baadjie. Dit is immers die voorblad wat die koerant verkoop en die omslag wat die tydskrif adverteer. Ek het egter ook al iets van ‘n spyskaart af bestel en nie gekry wat ek op die prentjie gesien het nie. Gereeld is die produk in die boksie nie die ware Jakob binne in nie. Die gesegde “bo blink en onder stink” kom in gedagte en ek wonder wat sal nou vir ons inwoners die belangrikste wees as ons ‘n vraelys moet opstel. Midvaal werk hard aan die finansiële bestuur van die munisipaliteit maar die inwoners is dalk meer gesteld op teerpaaie. Midvaal spandeer baie geld en tyd aan die ontwikkeling van ‘n interaktiewe slimfoontoepassing (MyMidvaalApp) maar die gemeenskap werk dalk makliker met Whatsapp.
Dit kan ook wees dat sekere inwoners ‘n botaniese tuin in die hoofstraat sal verkies terwyl ander eerder die geld op ekonomiese ontwikkeling sal wil spandeer.
Midvaal is ‘n landelike munisipaliteit en het derhalwe meer grondpaaie as teerpaaie, meer grasvelde as woonbuurte en meer landbougrond as industrieë. ‘n Grondpad wat natreën gaan modder maak en as hy baie verkeer kry gaan hy uitry en wegspoel. Grondpaaie kan nie soos hoofweë lyk nie en al raak ons almal redelik vet-op met modder-gly moet ons tog die ongekende reëns en samevloei van omstandighede verstaan. Dan is daar die tannie wat woedend was dat die munisipaliteit nie haar drein wou kom skoonmaak nie en die oom wat al jare kla dat Midvaal nie sy plaaspad tot by sy plaashuis skraap nie. Sekere dienste is net nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid nie, al wil hulle hoe graag help.
So wat maak ‘n munisipaliteit dan goed of suksesvol of die beste? Geen slaggate? Mooiste sypaadjies? Besgeklede raadslede? Helderste plakkate? Groenste bome? Kortste gras? Goedkoopste erfbelasting, krag, water en tariewe? Ek glo jy moet prioritiseer en hou by die sentrale besigheid van die munisipaliteit. Primêr staan die insamel van belasting om die munisipale mandaat te verwesenlik. Dan is stadsbeplanning, vervoerinfrastruktuur en -beheer, watertoevoernetwerke (nie noodwendig voorsiening), elektrisiteitsnetwerkbestuur (nie opwekking en kragvoorsiening), sanitasiebestuur, vullisverwydering en -bestuur, geïntegreerde ontwikkeling van woonbuurte, industrieë en besigheidskern, basiese veiligheid en brandbeskerming, asook die ontwikkeling van die area se ekonomie deur investering aan te wakker die hoofdoel van enige munisipaliteit. Plaaslike munisipaliteite kan egter nie verantwoordelik gehou word vir behuising, opvoeding, klinieke, hospitale, provinsiale paaie, hoofweë, die polisiediens, water- en elektrisiteitsverskaffing, werkskepping, lisensiekantore, nasionale riviere, damme en brûe, of natuurrampe nie.
Wanneer ons dan ‘n munisipaliteit evalueer begin ons deur te kyk na die bestuur, kontroleer en finansies van die instansie. Dit gaan eerstens oor hoe hulle doen wat hulle getaak word om te doen en hoe hulle by die reëls en regulasies hou. Word daar aan die wette voldoen wat hulle reguleer en is hulle volhoubaar en verantwoordbaar met dit wat hulle doen en hoe hulle dit doen?
‘n Straat vol slaggate is ‘n probleem wat orals opduik en maklik oornag kan gebeur, maar kan egter maklik aangespreek word as die voorafgenoemde bestuursprosesse in plek is. Of dit 48 uur neem of in swaar reëns dalk vier weke neem, dit sal herstel word.
Waar munisipaliteite se basiese bestuur faal, sal die ineenstorting van die dienslewering vinnig volg. Dit is vir daardie rede dat instansies soos RatingsAfrika na die fundamentele bestuurs- en finansiële prosesse as primêre kriteria kyk wanneer hulle munisipaliteite vir sukses evalueer. Hul Municipal Financial Sustainability Index (MFSI) evalueer o.a.: operasionele prestasie, bates- en lastebestuur, begrotingspraktyke en likiditeit (www.ratingsafrika.com).
Trotse Midvaal Groete, Phil
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

*************************************************************************************

