Local newsNewsNews

Die duo stry oor 31 Mei

RUBRIEK. - "Hierdie is 'n fiktiewe storie wat onder geen omstandighede aan my toegeskryf moet word nie" - Skrywersengel. "Hy lieg" - die Skrywer.

“Dis Republiekdag. Vandag skryf ek ‘n storie oor die goeie ou RS van A”, verklaar sy trots.

Haar Skrywersengel stik amper in sy koffie. “Is jy nou heeltemal gek?,” vra hy, sy oë groot.

“Nou wat is daarmee verkeerd?” vra sy en begin sing, “Hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweef. Dis die lied …”

“Nee!,” sê hy en druk sommer ‘n vlerkveer in haar mond. Sy nies vies toe sy vere haar neus kielie.

“Nommer 1, skoenmaker hou jou by jou lees. Skryf liewer. Jy weet jy het vergeet om in die sangtalent ry te staan. Nommer 2, skryf nou oor Republiekdag en almal kryt jou dadelik uit vir ‘n verregse of rassis.”

“Maar ek is nie!,” protesteer sy dadelik. “Ek hou maar net van geskiedenis, maar almal weet ek is gek oor my land en my taal, en die Springbokke … ”

“Ek weet dit. Jy weet dit. Maar jy weet op die internet, kyk mense jou vlak, en hulle oordeel, en hulle raas en hulle baklei. En jy weet hoe voel jy oor konflik.”

Sy sug en sluk die knop in haar keel weg. “Jy is reg. Ek wou maar net geskryf het oor my laerskooldae. Ons het altyd so vlak voor 31 Mei flieks in die skoolsaal gekyk. Was sulke swart-en-wit movies van tannies met langrokke aan en met kappies op en bebaarde ooms op perde. En ossewaens wat oor die vlaktes kreun.

Skrywersengel is nie beïndruk nie. “Ek dink steeds dis ‘n slegte idee,” verklaar hy en vou sy arms.

“Skryf liewer oor die berge en die see of die diere in die wildtuin of jou honde by die huis.”

Sy loer vir hom oor haar bril. Sy weet hy is reg. Maar sy kry nog vir oulaas ‘n steek in.

“Het jy geweet mens kan Die Stem op die wysie van Liewe Heksie se temaliedjie sing én op die wysie van die Yellow Rose of Texas?”

Sy voeg die daad by die woord en trek los met, “Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see, oor ons ewige gebergtes, waar die kranse antwoord gee!”

Skrywersengel gryp die leë koffiebekers en loop. Stamp eers sy kop teen die kosyn, omdat hy weer vergeet het om te buk. Sy vlerke klap-klap agter hom aan.

“Doen liewer jou werk,” praat hy vanuit die kombuis. “Jy het deadlines!”

“Moenie jou tale meng nie. Die korrekte Afrikaanse woord is spertye”, snip sy terug.

Dan trek sy los met “Shosholoza… shosholoza. Ku lezontaba. Stimela si ghamuka e South Africa,” net om hom te irriteer én omdat sy van die liedjie hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button