Francois Roux, een van Vereeniging se stille steunpilare
Ons maak nader kennis met een van Vereeniging se steunpilare, Francois Roux.
VEREENIGING. – Francois Roux is al sedert 1966 deel van die wel en weë van Vereeniging.
Hy het sy laerskoolloopbaan aan die LS Drie Riviere voltooi en sy hoërskoolloopbaan aan die HS Drie Riviere.

Vandag is hy steeds baie trots op sy alma mater en is hy ook nog by die skool betrokke.
Nog ‘n plek waarmee hy nou verbind is, is die firma Jordaan Botha en Vennote Ouditeure. Hy het in 1971 hier begin vakansiewerk doen en vandag is hy een van die vennote.
Francois onthou nog hoe hy deel was van die ‘groot trek’ toe die besigheid van Krugerlaan na die huidige gebou in Joubertstraat geskuif het.

“Ek en Johan, wat vandag op een van die ander vloere werk, het die goed nog met sy oupa se bakkie aangery,” onthou hy met ‘n glimlag.
Na skool het Francois sy een jaar verpligte militêre diensplig voltooi alvorens hy B.Com aan die destydse PU vir CHO in Potchefstroom gaan swot het.
Hy het in 1977 by Jordaan Botha en Vennote begin werk en hier sal hy aftree.
Dit was in sy weermagdae dat die fotografiegogga hom gebyt het.
“Ek het op daardie stadium een van daardie Brownie bokskameras gehad. Ons was vir ses maande in Walvisbaai gestasioneer en ek het baie foto’s geneem. Ek het nou nog die album,” vertel hy.
In 1982 het hy deur ‘n vriend ‘n tweedehandse kamera in die hande gekry en by die Vanderbijlpark Fotografieklub aangesluit.
“Weens my werk as rekenmeester, is ek binne ses maande as die klub se tesourier aangewys.”
Veertig jaar later en Francois is steeds deel van die klub se komitee. Hy was selfs al op sy dag voorsitter.
Sy jarelange belangstelling in fotografie het hom ook na die Nasionale Fotografiese Vereniging van Suid-Afrika gelei waar hy nou al 20 jaar deel van die direksie is (2021 as President).
“Die vereniging is ‘n nie-winsgewende organisasie wat in 1954 gestig is en wat omsien na amateur fotografie in die land.”
Francois is ‘n veelsydige fotograaf met ondervinding in bykans elke faset van fotografie. Hy erken hy geniet landskapfotografie baie.
“Ek is ‘n realistiese fotograaf. Ek neem iets af soos ek dit sien.” Deur die jare het hy al Suid-Afrika deurkruis om foto’s te neem.
Alhoewel hy deesdae natuurfotografie baie geniet, het hy ook sy deel van sportfotografie gedoen toe sy vier kinders nog op skool was.
Die Palms Aftreeoord-projek in die Vaal lê hom ook na aan die hart. Hy is sedert Fase 1 se begin in 1995 daarby betrokke as een van die trustees.
“Dis my gemeenskapsdiens, mense besef dit nie, maar ons as trustees doen die werk omdat ons wil, ons word nie daarvoor betaal nie,” verduidelik hy op sy rustige manier.
Francois is ook al van 1966 by NG-gemeente Drie Riviere Oos betrokke.
“Ek is daar aangeneem en voorgestel en ons kinders het ook daar grootgeword. Ons is net nie daar getroud nie. My pa was predikant en teen 1978 was hy leraar by Unitaspark-gemeente, so hy het ons daar getrou,” vertel hy met ‘n vonkel in die oog.
Sy gesin is vir hom baie kosbaar. Hy is in 1978 met Maretha getroud. Die twee was saam op die PUK. Hy was in Caput manskoshuis en sy in Klawerhof dameskoshuis.
Die egpaar het vier kinders en sewe kleinkinders.
“My drie dogters woon nog almal hier in Vereeniging. My kleinkinders is almal hier. Dis die grootste voorreg in die wêreld,” vertel hy trots en dankbaar om sy familie nog almal in die Vaal te kan hê.