Na 62 jaar is hul steeds vriende
Vriendskapsbande wat die tyd oorleef is spesiaal.
VEREENIGING. – In 1960 het vier meisies in Laerskool Oospark by mekaar aanklank gevind en groot maats geword.
‘n Paar jaar later het hul saam hul hoërskoolloopbaan by Hoërskool Vanderbijlpark begin.
Die vier was steeds groot vriende en die groep het ses sterk geword toe nog twee deel van die vriendekring geword het.
Deur die jare het Annette Pieterse, Martie Grobler, Marietjie Wanland, Erna du Plessis, Elaine Erasmus en Alta Volschenk vriende gebly.
In 1971 het hul saam gematrikuleer en soos dinge maar gaan, het die lewe hul in verskillende rigtings geneem. Maar deurentyd het twee hier en drie daar tog kontak behou.
Skool reünies het hulle gehelp om kontak te behou met die laaste een wat verlede jaar gehou is. Die ses het gevoel dit is tyd dat hulle weer vir ‘n slag alleen kuier soos in hul skooljare.
Na baie beplanning en organisering kon hul dit uiteindelik einde April vanjaar regkry.
Die vriendinne het hul gades by die huis gelos en vir ‘n welverdiende naweek weggebreek na Springerbaai.
Elaine het na die tyd gesê die naweek was gevul met lekker lag en baie onthou-jy-nogs. Nie eers die koue reënweer het hul kuiertjie belemmer nie.
“Ons kon nie uitgepraat raak oor die dae wat ons nog met ons fietse afgery het Vaalrivier toe nie. Of die kere wat die sirkus in die veld hul tent opgeslaan het en ons ons so verkyk het aan die diere dat ons laat was vir skool nie.
“Die kuier was regtig spesiaal. Ons het besef nie een van ons het eintlik verander nie. Almal is nog dieselfde, ten spyte van die gryse wysheid en alles waardeur elkeen van ons al geleef het,” het Elaine opgewonde vertel.
Van almal is sy die enigste een wat steeds in die Vaaldriehoek woon. Weliswaar nie meer in Vanderbijlpark, haar grootword dorp nie, maar in Vereeniging.
Die ander is wyd versprei – van die Kaap tot in Klerksdorp en Pretoria. Hopelik kry die oud-Bijlers gou weer die kans om saam te kuier.
