Saak van gebed – nou groei gemeente weer
Ontmoet Ds. Emil Bihl wat elke week van Krugersdorp af ry om in Vanderbijlpark die Woord te bring, want hy gee om.
VANDERBIJLPARK. – Die Afrikaanse Baptise Kerk Vanderbijlpark is een van die dorp se oudste kerke.
Die afgelope jare het die geboue vervalle geraak en die gemeente het op die punt gestaan om hul deure te sluit.
Tog was daar ‘n paar vasbyters wat gevoel het ‘n gemeente kan nie sommer net so tot niet gaan nie.
Sowat twee maande gelede het hul vir die eerste keer weer ‘n predikant beroep.
Ds. Emil Bihl is getroud met Charlene en die egpaar het ‘n seun en dogter. Die gesin is eintlik van Krugersdorp en in die week werk Emil as prokureur in Roodepoort.
Elke Sondag ry hy Vanderbijlpark toe om die Woord te bring.
“Ek gee nie om of ek vir een mens of baie deurry nie. Elkeen is vir my belangrik. Dit is vir my ‘n groot genade om met soveel stukkende mense vertrou te word,” het hy onlangs op ‘n Sondagmiddag in die koue kerkgebou vertel.
Die gemeente het intussen weer groei begin toon. “Twee maande gelede was daar op ‘n Sondagoggend soms so vyf mense in die kerk, en nou is daar al 18.”
Die gemeente fokus ook nou op gebed en daar word deurnag gebedsessies voor Nagmaal gehou.
Een keer per week kom die wat aanlyn kan, bymekaar en word daar meer oor gebed geleer.
Een van die eerste dinge wat Emil weer ingestel het was koffie- en tee drink na kerk.
“Dis belangrik. Daardie rukkie na kerk is mos ideaal om weer by jou medegelowiges te hoor hoe dit werklik gaan en sommer net te kuier. Maar, ek het gesê ons kry ordentlike koffie,” lag hy.
Dinge begin nou stadig maar seker weer in plek val vir die gemeente. Daar is ‘n groot fondsinsamelingsprojek gehou waar Helena Hettema vir Moedersdag opgetree het.
Hulle kon begin om die badkamers te herstel en mooi te maak. Daar is ook groot opgewondenheid oor ‘n naskoolsentrum wat in ‘n gedeelte van die geboue oopgemaak gaan word.
“Die gemeente is besig om uit die as op te staan. Ons is dankbaar en glo dat ons as gemeente ‘n positiewe impak op die groter gemeenskap sal maak,” sê Emil.