Sasolburgers se onvergeetlike ‘road trip’ in hul Volla
SASOLBURG. - Die droom om sy pa in hul gesin se geliefde gerestoureerde 1972 Beetle op ‘n road trip te neem, het toe vir Beyers Nel waar geword.
Pa Petrus (77) het in 1972 (50 jaar gelede) dié splinternuwe Volkswagen Beetle by Duttons in die dorp gekoop. Die Beetle het deur die jare in onbruik geraak en onder ‘n afdak bly staan.
Petrus het egter te veel sentimentele waarde aan die motor geheg en nooit oorweeg om dit te verkoop nie.

Hy het vroeër vanjaar dié motor aan sy jongste seun gegee … en sodoende bly dié Beetle in die familie.
Tydens die vorige berig in Vaalweekblad het Beyers gesê sodra die Volla gereed is, gaan hy en sy pa die pad vat daarmee.

“Die Beetle is weer nuut soos in 1972 toe my pa hom uit Duttons se vertoonlokaal gery het,” sê Beyers.
Einde April het hulle toe hul tasse gepak vir ‘n road trip na die Gariepdam.
“Ons het tot in Kroonstad gery en van daar af die Saterdag tot in Bethulie, waar ons vier aande spandeer en die dorp met sy ryk geskiedenis verken het (my oupa is ook daar begrawe),” sê Beyers.
Hulle het ook ‘n dag na die dorpie Oviston (Oranje/Visrivier Tonnel) gery en van daar na die Gariepdam.

“Dit was ‘n belewenis. Ons was op ‘n toer tot onder in die damwal waar ons die watermassa van die oorloop van nader kon beleef,” som Beyers die ondervinding op.
In totaal was die road trip so 1 500km. “Die Beetle het haar baie goed gedra, net ‘n olie sensor wat vir ‘n olie lek gesorg het op pad terug, maar niks ernstig nie.”
Die Beetle is nog met ‘n ou “tape deck” toegerus wat nie meer werk nie. Dit het bygedra dat die manne al die pad heerlik kon gesels.

Die toer na die Gariepdam het behalwe vir die verblyfkoste, sowat R3 000 aan petrol gekos, maar vir ‘n tyd van onskatbare waarde gesorg.
“Ons het ‘n vreeslike lekker tyd gehad. Dit het vir my pa soveel goeie herinneringe teruggebring.”
Wat kan ons hieruit leer?
Gaar eerder ondervindings soos dié op instede van materiële skatte.
