Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

Rubriek. - Kyk nou so. 1940 se kalender ontdek in 2022.

Soms kry mens lekker verrassings op snaakse plekke. Oor die naweek is Ma doenig in die buitekamer.

Dit was al die jare Pa se domein, waar hy goed na hartelus opgegaar het.

Die buitekant van die sakpaskalender

Pa was een van daardie mense wat geglo het dat hy alles moes hou, want hy gaan dit dalk nog gebruik.

Ongelukkig het hy nooit enige iets georden nie. Jare der jare se goed het in daardie buitekamer onder die stof opgehoop.

Pa het altyd gesê hy gaan dit nog uitsorteer. Hy het nie daarby uitgekom nie…

Saterdagoggend begewe ek myself ook na buite waar Ma besig is om uit te dra en te sorteer.

Nugter weet hoekom hy so baie skroewedraaiers, skroewe, tange en spanners aangehou het. Ek trek ‘n laai uit en dra dit na buite.

Tot boordensvol met sy ou bakkie se ou punte en plugs. Ek sorteer. Gooi weg. Gril vir my hande wat al hoe vuiler word.

Tussen alles lê iets wat op die oog af soos ‘n donker stukkie karton lyk. Ek tel dit op en gelukkig draai ek dit om voor ek dit weggooi.

Voor is die woord “Calendar” gedruk. Dit lyk na ‘n boekie. Ek maak oop.

Binne in goud gedruk staan: “Christmas 1939. Greetings and Best Wishes for Christmas and the Coming Year.” Die “from” en “to” gedeelte is nie ingevul nie.

Ek blaai om en daar is dit, 12 bladsye met 1940 se maande. Onder aan elkeen ‘n wysheid deur  onder andere Samuel Johnson, Dickens, George Eliot, Byron, Goethe en selfs Aristotle.

Die kalender is sakpas grootte en in verbasend goeie kondisie as mens dink waar ek dit gekry het.

Waar het Pa dit gekry? Geen idee nie. Was voor sy tyd. Pa is eers in 1949 gebore.

Al wat ek weet is dat die kalender gedruk is dieselfde jaar as wat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het.

Kyk ek na die mense wat aangehaal word, wil ek my verstout om te sê die boekie is in Engeland gedruk.

In ‘n tyd van groot onsekerheid, met bomme wat oor Londen reën, het die boekie maand na maand hoop gebring.

Januarie 1940 se boodskap lees: “To improve the golden moment of opportunity and to catch the good that is within our reach is the great art of life – Samuel Johnson.”

Junie 1940 leer weer ‘n les: “Instruction does not prevent mistakes – mistakes themselves are often the best teachers – Froude”.

Die jaar sluit af met “May the happiness and glad peace of Christmas blend into a year of joyous days.”

Wie ook al die boekie gedruk het, het seker die laaste aanhaling geskryf, want daar is nie ‘n naam by nie.

Ek wonder hoe het die kalender in Suid-Afrika beland? Dalk het ‘n soldaat dit huis toe gebring na die oorlog.

Hoe het dit tussen my Pa se goed beland? So ver my kennis strek het nie sy oupa, pa of ooms in die oorlog geveg nie. Miskien het hy nie eens geweet hy het dit nie.

Hoe dit ook al sy, hier is die boekie nou weer – 83 jaar later. En ek wens dit kon praat. My meer vertel van al sy avonture deur die dekades.

Maar oor sy geskiedenis is hy stom, maar sy lesse spreek boekdele. En vir my is dit nou ‘n skat.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button