LifestyleLocal newsNews

Staalwerke spring massiewe bomramp net-net vry

“Toe die bomme ontplof, het tonne gesmelte staal by die oond uitgeskiet waar ons minute tevore nog gestaan het,” het werknemer vertel.

Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Vaalweekblad plaas maandelikse herdenkingsbylae oor die stad, waarin vertel word van groot nuusgebeure wat deur die jare hier afgespeel het. Dié berig is een daarvan……

Vereeniging se bekendste staalnywerheid was sedert 1911 ‘n gerekende werkverskaffer vir duisende inwoners van dié stad. Dit was eers bekend as Union Steel Corporation (Usco), later as Iscor en na nog ‘n paar naamveranderinge is dit vandag ArcelorMittal Vereeniging.

Dié werke het deur die jare vele suksesse behaal, maar ook ‘n paar noue ontkomings beleef. Gedurende die nag van 30 Desember 1995 het die staalwerke, toe bekend as Iscor Vereeniging, net-net ‘n afgryslike ramp vrygespring toe bomme wat onwetend as deel van skrootmetaal opgekoop is, in die boogoond beland en ontplof het.

“Daar was net ‘n geweldige slag en ‘n reuse-vlam toe gesmelte staal teen 1 500 grade Celsius oor ‘n gebied so groot soos ‘n huis uitgeskiet het,” het een van die manne wat die ontploffing gesien gebeur het, agterna aan Vaalweekblad vertel.

Hoewel slegs enkele van die 25 bomme en landmyne ontplof het, het dit die boogoond aan flarde geruk. As al 25 gelyktydig moes ontplof, sou daar waarskynlik net ‘n krater in die grond oorgebly het, het kenners agterna gesê.

Mnre. Lukas Lubbe, destyds eerste smelter, en Sarel Marais, Willem Pretorius en Anton de Buys, almal tweede smelters, het enkele minute voor die reuse-ontploffing van die boogoond af weggestap en die dood net-net vrygespring.

“Toe die bomme ontplof, het tonne gesmelte staal by die oond uitgeskiet waar ons minute tevore nog gestaan het,” het mnr. Lubbe aan Vaalweekblad vertel. “Dit was ‘n bestiering van Bo dat ons weggestap het.”

Mnr. Willem Coertzen, destyds Iscor se hoofbestuurder, het aan Vaalweekblad verduidelik dat die ontploffing veroorsaak is deur bomme wat as deel van skrootmetaal van ‘n buurstaat aangekoop is. Niemand het die vaagste vermoede gehad dat die skrootmetaal bomme bevat het of hoe dit daarin beland het nie.

“Oral in die buiteland, en selfs plaaslik, is wapentuig en ploftoestelle begrawe wat nou toenemend uitgegrawe en as skrootmetaal verkoop word,” het Coertzen destyds gesê. Na die voorval is al Iscor se skrootmetaal noukeurig en deeglik deursoek voordat dit gesmelt is en volgens Coertzen is nóg bomme in die opvolgende dae gevind en onskadelik gestel. Iscor het ook dadelik ander smelterye in die land gewaarsku dat daar moontlik ploftoestelle en bomme in hul skrootmetaal kan wees.

Die skade aan die boogoond is destyds op etlike miljoene rand geraam. Die oond is in ‘n rekordtyd van nege dae heeltemal herbou en weer in gebruik geneem.

‘n Bomdeskundige van die Polisie wou nie bespiegel oor die grootte van die ramp as al 25 bomme gelyktydig sou ontplof nie, maar het wel gesê dit sou “asemrowende skade” aangerig het.

 

 

***********************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button