V’ging se sokkerheld, Geoff Crone, se dood ruk Vaal in 1996
Hy het kort na sy aankoms in Vereeniging sokker vir Usco begin speel en het later ‘n stigterslid en bestuurder van die Phoenix Football Club geword.

Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Om dié mylpaal te vier, kyk Vaalweekblad hierdie jaar terug na groot nuusgebeure en legendariese inwoners wat diep spore in die stad getrap het. Die tragiese dood van Geoff Crone is steeds een van die hartseerste voorvalle wat in Vereeniging afgespeel het.
Vereeniging se inwoners, en spesifiek die sokkergemeenskap, is in Februarie 1996 geruk deur die dood van Geoff Crone, wat ‘n deurslaggewende rol in Vereeniging se sportkringe gespeel het.
Geoff, toe 52, het in Spey-rylaan, Drie Riviere gewoon en is die betrokke dag die laaste keer gesien toe hy uit is om middagete te gaan koop.
Hy het nie huis toe gekom nie en sy liggaam is later met talle koeëlwonde deur die polisie gevind.
Verskeie mense is in verband met sy moord gearresteer, maar dis onbekend of enigiemand ooit skuldig bevind en gestraf is.
Geoff het in 1972 vanaf Engeland na Suid-Afrika geïmmigreer en hom in Vereeniging kom vestig. Hy het daagliks vanaf Vereeniging na Johannesburg gependel, waar hy die bestuurder van ‘n groot onderneming was.
Hy het kort na sy aankoms in Vereeniging sokker vir Usco begin speel en het later ‘n stigterslid en bestuurder van die Phoenix Football Club geword.
Geoff het veral toegespits op junior sokker en dis op dié gebied waar hy ‘n reuse-bydrae tot die sport in Vereeniging gemaak het.
Hy het die Milton Junior Football Club gestig en die spel tot ongekende hoogtes geneem.
Hy het nie net die deelnemers afgerig nie maar ook hul ouers betrek en die spanne op toernooie dwarsdeur die land geneem. Die klub het deur die jare een van die mees gevreesde sokker-mededingers geword.
Geoff het in 1990 as lid van die klub uitgetree maar was tot met sy dood ‘n aktiewe mentor vir jong sokkerspelers. Hy was ook ‘n bekende lid van die destydse Vereeniging-buiteklub. Sy wrede, ontydige dood word tot vandag toe betreur.
****************************************************************************************

