Local newsNewsNews

Misdaadstatistiek: Dis veral gevaarlik vir vroue en kinders

Hier in die Vaal het die gemeenskap reeds een ernstige geval van ontvoering deurgemaak en verlede week was daar 'n voorval by 'n skool in Vereeniging wat ouers van vooraf koue rillings gegee het.

Nie net die algemene toename in misdaad is kommerwekkend nie, maar ook die skerp toename in ontvoering wat dui op ‘n nuwe, ontstellende  misdaadtendens in Suid-Afrika.

Volgens ‘n onlangse mediaverklaring deur Dr. Pieter Groenewald (VF Plus-leier), skets die jongste polisiestatistiek in die algemeen ʼn donker prentjie oor misdaad wat duidelik besig is om buite beheer te raak.

Die opvallendste hiervan is ontvoerings wat teenoor die ooreenstemmende kwartaal verlede jaar met 109,2% toegeneem het.

“Hieraan sal dringende aandag gegee moet word om te voorkom dat Suid-Afrika in dieselfde asem genoem word as lande soos Colombië, Venezuela en Sirië,” sê Dr. Groenewald. “Dis ʼn groeiende tendens wat in die kiem gesmoor moet word”.

Alle geweldsmisdaad het toegeneem teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Moord het toegeneem met 22,2%, (van 12 133 tot 13 799);

poging tot moord met 24,8% (4 582 tot 5 717);

aanranding met die doel om ernstig te beseer, met 18,1% (36 417 tot 42 992).

Rooftogte het toegeneem met 13% (9 549 tot 10 787) en roof met verswarende omstandighede met 6,5% (30 768 tot 32 783).

Nog ʼn ontstellende verskynsel is die toename in moord op kinders in die ouderdomsgroep 0 tot 17 jaar wat met 37,2% toegeneem het vanaf 223 tot 306.

Moord op vroue het ook skerp gestyg met ʼn toename van 17,5% (764 tot 898).

“Die polisie kan nie langer net beloftes maak oor misdaadbestryding en die beskerming van vroue en kinders nie, maar sal met ʼn duidelike strategie na vore moet kom.”

Wat plaasmoorde aanbetref, was daar luidens die statistiek 12 moorde in die eerste kwartaal vanjaar teenoor 11 in dieselfde tydperk verlede jaar.

“Hierdie statistiek, wat slegs die aantal moorde insluit, skets nie ʼn volledige prentjie oor die situasie rondom landelike veiligheid nie en ek het gevra dat die aantal aanvalle ook by die statistiek ingesluit word,” sê Dr. Groenewald.

“Die toename in misdaad is ontstellend. Dit kan in ʼn groot mate toegeskryf word aan die binnegevegte en onenigheid tussen die vorige polisiekommissaris, genl. Kehla Sitole, en die minister, Bheki Cele. In die proses is misdaadbestryding agterweë gelaat.”

“Teen hierdie agtergrond is dit geen wonder dat die publiek toenemend vertroue in die polisie verloor nie. Navorsing toon dat slegs 27% van die publiek nog die polisie vertrou.”

“Suid-Afrika word ʼn gevaarlike land om in te woon en die regering misluk in sy plig om misdaad te bestry. Suid-Afrika en sy mense verdien beter as die ANC,” het Dr. Groenwald sy verklaring afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button