Moenie met dié polisievrou kanse vat nie
VANDERBIJLPARK. - Na afloop van die onlangse International Mixed Martial Arts Championships (IMMAF) African Open Championships word Nadia Terblanche van die Mighty Warriors Dojo as een van die toekomstige vegkunssterre bestempel.
Die kampioenskap het onlangs in Johannesburg plaasgevind.
Dié byeenkoms vir vegters van die Afrika-kontinent was goed ondersteun met 47 vegters van agt lande wat mekaar die stryd aangesê het. Nadia het haar hart uitgeveg en is met ‘n algehele derde plek in haar afdeling (dames vlieggewigsklas tussen 53kg – 56kg) beloon.
Dié prestasie het ook aan haar nasionale kleure vir MMA besorg.

Nadia, wat polisiebeampte van beroep is, het vier jaar gelede by die Mighty Warriors Dojo in Vanderbijlpark aangesluit.
Sy neem deel aan skopboks (kickboxing) en MMA (gemengde vegskuns). Dit kos egter harde oefening om ‘n hoogtepunt soos Nadia s’n in dié gewilde sportsoort te behaal.
Sy oefen vier dae per week vir sowat twee ure per dag. Tydens dié oefensessies oefen sy teen mans en vroue.
“Ek het volle vertroue in Nadia gehad en verwag dat sy goed sou doen. Ons sou graag die leer verder wou klim, alhoewel ek baie tevrede is met wat sy bereik het. “Ongelukkig in MMA kan die geringste fout jou die geveg kos,” sê trotse afrigter, Stefan Brown.

Op haar beurt sê Nadia dat sy graag wou goed doen en dat sy veral trots was om haar land op die vlak te kon verteenwoordig.
“Ek glo dat elke geveg sy eie uitdagings het, maar op so ‘n wyse bou mens weer nuwe ondervinding op en daarop bou ‘n mens voort,” som Nadia dit op.
Die volgende kampioenskap waaraan Nadia gaan deelneem is die MMA Suid-Afrikaanse kampioenskap. Sy en mede-klublid Stiaan Brown sal die Sedibengspan van 21 tot 23 Julie by dié byeenkoms verteenwoordig.
Daarna word die harde oefening voortgesit met die oog op die 2023 Afrika Ope.
* Die Suid-Afrikaanse span het in totaal 17 medaljes by die IMMAF Afrika Ope ingepalm, die meeste van al die deelnemende lande.

Foto’s: Verskaf
