Bibberweer op pad
Gryp jou warmste wintersklere en kry daai komberse reg, want die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku dat 'n reeks kouefronte op pad is!
Terwyl Suid-Afrikaners die afgelope paar dae wolklose en betreklik warm dae geniet het is dinge vinnig besig om te verander.
‘n Reeks kouefronte sal na verwagtig vroeg volgende week die westelike dele van die land bereik en van daar af ooswaarts beweeg.
Die weerdiens voorspel dat dit die meeste van Suid-Afrika sal raak.
Hierdie koueftonte sal na verwagting sterk winde, hoë golwe, swaar reënval, ligte sneeu en ‘n aansienlike daling in temperature tot gevolg hê.
Die eerste kouefront sal volgens die weerdiens na verwagting Sondagaand die Wes-Kaap bereik.
Voor dié front word sterk noordwestelike winde tussen 50-60 km/h, rukwinde tot 70-80 km/h, van Sondag af oor die suidelike dele van die Noord-Kaap en die binneland van die Wes- en Oos-Kaap verwag.
Hierdie sterk winde sal waarskynlik lei tot skade aan formele en informele nedersettings asook moontlike strukturele skade in hierdie gebiede.
“Boonop word westelike tot suidwestelike golwe, met aansienlike deinings van 4,0 tot 4,5 m, verwag tussen Kaappunt en Kaap Agulhas op Maandagoggend, 13 Junie 2022, wat tot in die middag voortduur. Saam met hierdie golwe word sterk noordwestelike winde (50-60 km/h) langs hierdie kus verwag. Hierdie toestande kan lei tot moeilikheid om op see te navigeer,” waarsku die weerdiens in ‘n verklaring.
Teen Maandagaand sal nog ‘n kouefront die Wes-Kaap bereik.
Aangesien hierdie fronte aan land val, word hoë reënvalbedrae hoofsaaklik in die suidwestelike dele van die Wes-Kaap verwag, veral van Maandag tot Woensdagmiddag.
“Dié reënval sal Dinsdag ooswaarts na die Oos-Kaap versprei. Reënvalophopings sal na verwagting tussen Maandag en Woensdag 50-80 mm oor die bergagtige gebiede van die Kaapse Metropool, die westelike dele van Kaapse Wynlande en die westelike dele van die Overberg-distrikte bereik,” waarsku die weerdiens.
Volgens die weerdiens sal hierdie hoë reënvalophopings waarskynlik oorstromings van paaie en formele / informele nedersettings in hierdie gebiede veroorsaak.
Alhoewel die Oos-Kaap na verwagting ‘n mate van reënval sal ontvang, sal die reënvalhoeveelhede na verwagting geen noemenswaardige uitwerking op die damvlakke vir daardie provinsie hê nie.
Volgens die weerdiens sal temperature na verwagting Maandag aansienlik daal oor die hele Wes-Kaap en Namakwa-distrik.
Hierdie verkoeling sal tussen Woensdag, 15 Junie 2022 en Donderdag, 16 Junie 2022, Limpopo, Mpumalanga sowel as KwaZulu-Natal bereik, ooswaarts versprei.
Met hierdie afkoeling sal vriesvlakke na verwagting ook aansienlik daal, wat sal lei tot ligte sneeuval oor die suidelike hooggrond van Namakwa, asook die hoogliggende gebiede in die westelike binneland van die Oos-Kaap, wat Dinsdag na die noordooste sal versprei.
