Ralie Dippenaar – die Bolander wat ‘n Valie geword he
Ons kuier aan’t huis met Ralie Dippenaar. Sy is bekend as die tannie wat plotte verkoop in die eiendomsmark, maar baie onthou haar ook van haar dae toe sy nog werksaam was in NG Moedergemeente se kerkkantoor.
VANDERBIJLPARK. – Ralie Dippenaar en die Vaal gaan hand aan hand. Moeilik om te glo dat sy nie ‘n gebore en getoë Valie is nie.

“Ek is in die Vrystaat gebore, maar toe ek ses jaar oud was, het ons Kaap toe getrek. Ek het my skoolloopbaan op Wolseley voltooi,” vertel sy.
Na matriek het sy by die Wynbou Instituut op Stellenbosch gaan werk as deel van die span wat grond en waternavorsing gedoen het.
Vir sewe jaar was dit haar tuiste. Aan verhuis of ander werk soek het sy nie eens gedink nie.
Sy het haar werk geniet en jukskei gespeel. Ralie was deel van die Bolandspan en het SA’s gespeel.
“In 1978 het ons Bolanders weer na die SA’s bietjie gaan ontspan in Langebaan. Daar ontmoet ek toe ‘n mede-jukskeispeler, Annetjie du Plessis, se ouers van Vanderbijlpark.
Haar pa het vir my gesê ek moet vir Vaaldriehoek kom jukskei speel. Ek het net gelag en daarvan vergeet,” onthou sy.
‘n Ruk daarna het sy ‘n vreemde oproep gekry. Die man was van Yskor in Vanderbijlpark en hy wou weet hoekom sy haar werksonderhoud vir 09:00 gemis het?
Sy kon haar ore nie glo nie, maar is aangesê om die Maandag aan te meld.
“Ek was stomgeslaan. My suster het gesê dis ‘n geleentheid wat ek moet vat. Wel, ek het die naweek gevlieg en by die Du Plessis-gesin tuisgegaan.
“Die Maandagoggend het die destydse president van Vaaldriehoek jukskei, oom Giel Hand, my by Yskor se ontvangs afgelaai.

“Daar het ‘n man vir my gesê: “Alles is gereël. Teken net hier.” Op 1 Desember 1978 het ek in die laboratoriums begin werk,” onthou Ralie.
Daardie eerste ruk het sy baie gehuil oor die vreemde plek. Sy het steeds jukskei gespeel.
Dit was juis op pad SA’s toe wat ‘n vriendin van haar se broer vir hulle die karavaan gesleep het, waar sy en die broer ‘gekliek’ het.
Sy en Piet Dippenaar is op 15 Desember 1979 getroud. Die egpaar het drie kinders en drie kleinkinders.
Daarna was sy onlosmaaklik deel van die Vaal.
Later jare het sy by die NG Kerk Moedergemeente in Vanderbijlpark begin werk.
Oor die 10 en ‘n half jaar wat sy daar doenig was, het sy baie staaltjies te vertelle.
Soos die keer wat mense laatmiddag die dominee kom soek het.
“Ek het geweet ds. Johan en Piet was buite besig om aan Johan se motor te werk, maar ek het ook besef die mense herken nie die dominee nie.
“Toe sê ek maar nee, hy is nie daar nie, maar ek maak vir hulle ‘n afspraak tydens kantoorure,” lag sy lekker.
In 2000 het die Dippenaars plaas toe getrek in die Heilbron distrik.
Vir Ralie was dit ‘n moeilike tyd, want sy het haar kerk en sy mense gemis.
In 2004 het hul teruggetrek, en dit was haar dogter Rika wat die advertensie gesien het van ‘n agentskap op soek na eiendomsagente.
“Dis toe dat ek begin het om kleinhoewes te verkoop en die bynaam van Tannie van die Plotte gekry het.”
Ralie is betrokke in die gemeenskap en is maar altyd êrens besig om koekies uit te deel, ‘n rugbyspannetjie te borg of by ‘n basaar uit te help.
Net nou die dag het NG Kollegepark se predikant van die preekstoel vir almal vertel sy gaan weer afval en skaapkop maak vir die potjiekoskompetisie.
“Ag, ja en toe doen ek dit maar. Drie afvalle en drie skaapkoppe. En die mense het lekker geëet,” glimlag sy tevrede.
Dis waarvan sy hou, om mense te help en te weet die mense om haar is tevrede, want Vanderbijlpark se mense het toe haar mense geword.
