Local newsNewsNews

Alexandro’s ter ere aan Alexander

Drome kan nog waar word. Hierdie berig vertel een so 'n verhaal...

VEREENIGING. – Monique en Steven Maas het onlangs ‘n jarelange droom waarheid gemaak toe hul ‘n spesiale pizza plek in Acornpark geopen het.

Alexandro’s is oopgemaak ter herdenking aan hul seuntjie, Alexander, wat in 2017 op 16 maande aan breinkanker oorlede is.

Alexander Maas was maar 16 maande oud toe hy in 2017 aan breinkanker oorlede is Foto: verskaf

“Hierdie plek is vir ons baie spesiaal,” het Monique gesê, “ek het jare gewag vir alles om in plek te val om my eie pizzeria te kon oopmaak.”

Sy het al begin moedeloos raak om die regte plek te vind, toe die ideale gebou oopgaan in Daisystraat 2, Arcornpark.

“Die Here het net vir ons deure oopgemaak. Ons is so geseënd. Alles het net in plek geval en ons het in die eerste week meer as ‘n 1000 pizzas verkoop,” het sy opgewonde vertel.

Monique het jare se ondervinding in die restaurantbedryf. Dit het alles begin toe sy jare gelede in Engeland studeer het en in ‘n Italisaanse restaurant gewerk het.

Sy het daar ‘n voorliefde vir regte Italiaanse pizza ontwikkel en dis die tipe pizzas wat by Alexandro’s gemaak word.

Ervare sjef Tendai Samhokore maak al die lekker pizzas en ander disse op die spyskaart. Foto: Gerda Bruinette

Die pizzas se deeg verskil van die gewone pizzas wat in Suid-Afrika gekoop word en word ook in ‘n houtvuuroond gaargemaak.

“Ons gebruik ook net ‘n Italiaanse tamatiebasis en speserye. Van ons pizzas is Italiaanse gunstelinge, maar ons weet ook Suid-Afrikaners verkies die classics en dis alles op ons spyskaart.”

Monigque en Steven bestuur die besigheid en word bygestaan deur opgeleide sjef Tendai Samhokore wat presies weet hoe om die beste geregte in ‘n japtrap voor te berei.

“Ons het alreeds mense wat gereeld hier inloer vir hul gunsteling pizzas,” vertel Steven, “verlede week het een man vyf dae agtermekaar die meksikano bestel. Die enigste “klagte” wat ons tot dusver gehad het was van ‘n vrou wat spyt was sy het nie maar twee pizzas gekoop nie.”

Monique sê hulle het groot planne vir Alexandro’s, van ‘n koffie-kroeg gedeelte tot by aflewerings.

“Hier teen die muur gaan ons ‘n foto van Alexander opsit. Hierdie is sy legacy,” vertel sy en glimlag deur die trane, terwyl Steven en Tendai instemmend knik.

Die bruinkopseuntjie met die blink ogies sal nie vergeet word nie.

Gaan maak gerus ‘n draai op hul Facebookblad vir meer info.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button