Meyerton spog met kunsgalery
MEYERTON. - “Kuns is die hartklop van ‘n gemeenskap. Dit is die eerste taal, dit is die rouste manier van uitdrukking. Dit vertel verhale, vang geskiedenis vas en hou geheime.”

Dié woorde van Elsje van Zyl gee mens dan sommer ook ‘n blik op haar uitkyk op die lewe. Dit maak dit duidelik dat ‘n liefde vir kuns en kreatiwiteit sterk deur haar are vloei. Dit maak haar net die regte persoon wat onlangs wat onlangs ‘n kunsgalery in Meyerton oopgemaak het.
Ligkuns is ook nie net ‘n kunsgalery nie, dit is ook ‘n fotografie- ateljee. kuns-ateljee met ‘n kafee waar kunstenaars kan tuis voel.
Kunstenaars kan selfs hul kliënte hier ontmoet vir afsprake.

“Ek beplan deur die jaar ‘n verskeidenheid uitstallings. Daar sal telkens ‘n openings-aand wees om ‘n nuwe uitstalling af te skop,” vertel Elsje.
Wat dit ekstra interessant maak is die feit dat sy die uitstallings kombineer deur werk van ‘n bekende kunstenaar met die van ‘n opkomende kunstenaar te kombineer.
“Ek beskou die Ligkuns Galery as ‘n voertuig om die fyner kunste in ons area te bevorder. Dit bied ‘n platvorm waar kunstenaars se werke aan die publiek bekend gemaak kan word,” sê Elsje.


Sy bied ook kunsklasse aan en nooi enigiemand wat al ooit wou probeer maar net nie die kans gehad het nie, asook diegene wat weer hul kuns-liefde wil hervat, om haar te kontak. “Selfs diegene wat dit net vir ontspanning wil doen en hul lewe wil verryk is welkom,” nooi sy.
Elsje is self ‘n bedrewe en passievolle kunstenaar wat in fotografie en sketse spesialiseer. Haar familie het ‘n ryk geskiedenis en aanvoeling vir die kunste.
Haar ouma was ‘n waterverfskilder, haar ma ‘n poppekunstenaar, haar oudste suster ‘n skrywer, haar broer is soos pa ‘n ingenieur (maar hy kan baie mooi skets) en haar jongste suster is ‘n grafiese ontwerper en musikaal aangelê.
Elsje het in Johannesburg grootgeword en aan die National School of Arts in Braamfontein matrikuleer. Sy het haar studies na skool by die National College of Photography voortgesit.
As fotograaf geniet sy dit veral om foto’s in die natuur en landskappe te neem. Maar sy geniet dit ook om portrette te neem.
Sy het haar weg na Midvaal in 2000 gevind, waar sy en manlief Kenny en hul kroos van drie steeds gelukkig is.
* Die galery se besigheidsure is Dinsdae tot Vrydae van 10:00 tot 17:00 en Saterdae van 09:00 tot 13:00. Om deel te wees van Ligkuns se nuusbrief, stuur gerus ‘n e-pos na elsje@ligkuns.co.za




