Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Almal stem nou nie met my saam nie, maar dis ook goed so. Persoonlik is ek nou moeg vir flou Brakpan-grappies terwyl die Vaal agteruitgaan en hierdie afgesperde woongebiede... aikona!

Met die huidige petrolpryse gebeur dit nie meer baie nie, maar oor die naweek het ons die relatiewe langpad gevat Oos-Rand toe, Brakpan om presies te wees.

Een ding kan ek met alle eerlikheid sê, ‘n flou grappie oor Brakpan en sy mense gaan ek ook nou nie meer duld nie.

Om verskeie redes. Ek is in Brakpan (eintlik die Verre Oos-Rand Hospitaal) gebore, my ouers het daar skoolgegaan en ek het nog heelwat familie daar.

Die grootste rede is egter dat Brakpan op die oomblik baie beter lyk as die Vaaldriehoek. Sypaadjies en middelmannetjies is gesny. Alle, maar alle verkeersligte werk. Ja, selfs die pyltjies!

Daar is geen noemenswaardige slaggate nie. My oom beweer daar is ‘n paar kleintjies in die straat waar hulle bly, maar ek het nie een gewaar nie.

Verbeel jou. Ek kon reguit bestuur en nie soos ‘n dronk mens gate probeer misry nie.

Vanderbijlpark was ook eens so ‘n dorp. Dit was baie, baie lank gelede.

Iets wat ek wel daar opgemerk het, wat ook hier kop uitsteek, is dat sekere woongebiede met hekke afgekamp word.

‘n Mens moet so ‘n groen knoppie druk en dan kan jy deurgaan. Weet nie of hulle nou ‘n foto neem as jy die knoppie druk nie, maar andersins maak die stelsel nou nie eintlik vir my sin nie.

Wie weet nou waar ek heen is en wat het ek daar gemaak? Nie dat ek iets onwettigs sou aanjaag nie.

Ek ry mos in die laaste tyd met Vaalweekblad-ads op my Mich se deure geplak, so dis maklik om my op te spoor. Ek sê maar net.

Hier ter plaatse is daar ook sulke areas. Ek hou nie daarvan nie.

Kyk, ek weet almal wil veilig slaap en sover as moontlik huis en haard beveilig, maar wraggies, om openbare strate af te kamp is darem een tree te ver gevat. My opinie.

Niemand hoef saam te stem nie.

Nou se dae is dit mos ‘n gedoente om by enige plek in SE3 uit te kom. Lyk hulle (wie ook al hulle is) het besluit hulle moet die gewone gepeupel daar uithou en toe word daar oral die lelikste hekke met slotte en alles opgesit. Vir wat?

Blykbaar vir beter sekuriteit. Ag, nonsens man, as diewe wil in, sal hul in en dan gaan jul lelike ou hekke geen verskil maak nie.

Julle maak dit net moeilik vir gewone mense om hul werk te doen. Ek het nou die dag met my eie oë gesien hoe sukkel ‘n vullis-vragmotor.

Oorspronklik sou hy oplaai en net reguit aan sy draai na links of regs in Louis Trichardt-boulevard neem.

Maar, nee hy ry toe vir hom vas in ‘n toegesluite hek. Moes daai man toe nou agteruit sukkel met daardie sware trok om weer daar uit te kom.

‘n Mens ry jouself ook skoon naar met ‘n draai links en draai regs en dan weer links net om by ‘n huis uit te kom.

Wat bietjie ironies is, want in die verlede het ek baie minder rondgery in die woongebied om te kom waar ek wou wees.

Nou dink ek maar net, as ek nou meer moet rondry, sal kwajongens ook nou meer moet ry net om ‘n uitgang in die woongebied te kry.

Hoe dit ook al sy, hier in die Wilde Weste aan die annerkant van die R42 sou ons wat wou gee om van daardie hekgeld in die hande te kry, nie om hekke op te sit nie, maar om honger kinders kos te gee en vir arm oumense skoene te koop.

Ek sê maar net…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button