LifestyleLocal newsNewsNews

Wêreld se ‘bekendste vrou’ sprei vlerke na die Vaal in 1928

Lady Heath moes eers by Maccauvlei buite Vereeniging kom land sodat sekere veranderinge aan haar vliegtuig aangebring kon word

Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Hier is een van die interessante gebeure wat in die afgelope eeu hier afgespeel het…

Verskeie wêreldbekende mense het in die afgelope 130 jaar al ‘n draai in Vereeniging kom maak. Een van hulle was Sophie Peirce-Evans, ook bekend as Lady Mary Heath, wat in die 1920’s as een van die wêreld se bekendste en dapperste vroue beskou is.

Dié Ierse vrou was in haar jong dae ‘n uitmuntende baan- en veldatleet sowel as ‘n stigterslid van die internasionale Women’s Amateur Athletic Association. Sy was ook ‘n kampvegter vir vroue se insluiting in die Olimpiese Spele.

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was sy ‘n ambulansbestuurder in Frankryk en het later die eerste vrou in Brittanje geword om ‘n lisensie as handelsvlieënier te verwerf.

In 1927, gedurende haar en haar man, Sir James Heath, se wittebrood in Suid-Afrika, het sy besluit om alleen met haar klein Avro Avian-vliegtuig van Kaapstad na Londen te vlieg – die eerste keer ooit dat iemand dié solo-vlug aangepak het.

Sy het in Januarie 1928 op haar reis uit Kaapstad vertrek, maar moes eers by Maccauvlei buite Vereeniging kom land sodat sekere veranderinge aan haar vliegtuig aangebring kon word. Nadat Vereeniging gasheer vir dié dapper dame gespeel het, is sy uiteindelik hier weg en het na verskeie stoppe tussen-in, op 17 Mei 1928 suksesvol in Londen geland.

Dié brawe dame se latere lewe het ongelukkig tragies verloop. Sy het ‘n paar liefdesteleurstellings gehad en het glo oormatig alkohol begin gebruik. Sy is op die relatief jong ouderdom van 42 dood nadat sy in Londen in ‘n dubbeldekkerbus geval en haar kop teen die busbestuurder se handkontroles gestamp het. Sy het ‘n paar dae later, op 9 Mei 1939, in die St Leonard’s Hospital in Londen gesterf.

Ondanks haar hartseer einde word Lady Heath steeds onthou as een van die wêreld se dapperste vroue, wat byna 100 jaar gelede met groot geesdrif in ons eie Vereeniging ontvang is.

Bron: airportofcroydon.com

Foto bo: (Facebook) Lady Heath land in 1928 op Maccauvlei buite Vereeniging op haar solo-vlug tussen Kaapstad en Londen. Die naam van die fotograaf is ongelukkig onbekend.

 

Lady Mary Heath – Foto: https://library.uta.edu/

********************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button