Mnr Sevenster – sy nalatenskap leef voort
Mnr. Piet Sevenster was 'n uitstekende hoof wat elkeen van sy onderwysers op 'n pad van bevordering gehelp het.
SASOLBURG. – Mnr. Piet Sevenster, voormalige hoof van Leeuwspruit Primêr het in 2017 afgetree en is op 1 April 2021 oorlede.
Hy word steeds by die skool gemis en almal onthou hom met baie eerbied en respek.
Leeuwspruit se adjunkhoofde, Olga Kriel en Renaldi Wright, het gaan nadink oor die merkwaardige nalatenskap van mnr. Sevenster en toe ‘n ontdekking gemaak wat boekdele spreek van hul voormalige hoof.

Dit blyk dat in die tyd wat hy hoof by Leeuwspruit was (2003 – 2017) het hy vele vlak 1 onderwysers aangestel.
Hierdie jong onderwysers het hy gementor, verantwoordelikhede gegee en hulle ‘n paar wyshede geleer.
Die een was om nooit op te gee nie. Die ander om handvatsels te groei.
Olga onthou, Mnr. Sevenster het altyd vir hulle gesê: “Groei handvatsels, sodat hulle jou kan optel en enige plek in die onderwys gebruik. Hy het ons gedruk om altyd meer te doen, meer te leer. Hy wou hê ons moet alles kan doen. Spesialiste in die onderwys wees,” onthou sy.
“Hy het baie hoë verwagtinge van ons gehad,” vertel Renaldi, “hy was ook baie kwaai, maar weet jy hy het ons reg grootgemaak.”
Dat die jong onderwysers van destyds na hom geluister het kan duidelik gesien word as mens begin kyk wat het van daardie vlak 1 onderwysers en onderwyseresse geword.
Renaldi en Olga het ‘n lys van 20 mense saamgestel wat onder Mnr. Sevenster aangestel is en wat betreklik gou die leer geklim en in hoër poste aangestel is.
“Dis seker nie ‘n volledige lys nie, maar dis die waarvan ons weet,” het Olga gesê. Dit sluit nog nie die hoeveelheid skoolkinders op wie hy ‘n positiewe invloed gehad het in nie.
Die lys van vlak 1 onderwysers wat deur Mnr. Sevenster na sy hand grootgemaak is, sluit in ses hoofde, ses adjunkhoofde, sewe departementshoofde en een adjunk onderwysspesialis by die departement van onderwys.
“Ons is albei van “die kinders” wat Mnr. Sevenster grootgemaak het en ons mans is ook,” het Leeuwspruit se twee adjunkhoofde trots vertel.
Hulle is onderskeidelik met Lihan Kriel, skoolhoof by Lumiére Primêr en Jonathan Wright Noordskool se hoof getroud.
