Internasionale Albinisme Bewusmakingsdag gevier
Dit is Maandag 13 Junie 2022 en vandag is Internasionale Albinisme Bewusmakingsdag.
Die dag word jaarliks op 13 Junie gehou om die regte van mense met albinisme regoor die wêreld te vier.
Die dag het ontstaan nadat die Albinisme Vereniging van Tanzanië en ander nie-regeringsorganisasies ‘n veldtog van stapel gestuur het om die menseregte van mense met albinisme te beskerm.
Rondom die middel 2000’s was daar ’n ongekende toename in gewelddadige aanvalle en selfs moorde op mense met albinisme in Tanzanië. In sommige gevalle het bygelowe tot die aanvalle gelei met oortreders wat geglo het dat liggaamsdele van persone met albinisme hulle geluk sou bring.
Die eerste ‘Albino Dag’ het op 4 Mei 2006 plaasgevind. Sedert 2009 staan die dag as Nasionale Albinisme Dag bekend. Die dag word jaarliks op 13 Junie gevier.
Op die amptelike webwerf van die Verenigde Nasies word albinisme as ‘n seldsame, nie-aansteeklike, geneties oorerflike toestand beskryf waarmee sommige mense gebore word.
In byna alle soorte albinisme moet albei ouers die geen dra om dit oor te dra, selfs al het hulle nie self albinisme nie. Die toestand word by beide geslagte aangetref ongeag etnisiteit en in alle lande van die wêreld.
Albinisme lei tot ‘n gebrek aan pigmentasie (melanien) in die hare, vel en oë, wat kwesbaarheid vir die son en helder lig veroorsaak. Gevolglik is byna alle mense met albinisme siggestremde en is hulle geneig om velkanker te ontwikkel. Daar is geen geneesmiddel vir die afwesigheid van melanien wat sentraal tot albinisme is nie.
Terwyl getalle verskil, word beraam dat in Noord-Amerika en Europa 1 uit elke 17 000 tot 20 000 mense een of ander vorm van albinisme het. Die toestand is baie meer algemeen in Afrika suid van die Sahara, met ramings van 1 uit 1 400 mense wat in Tanzanië geraak word en voorkoms so hoog as 1 uit 1 000 is aangemeld vir uitgesoekte bevolkings in Zimbabwe en vir ander spesifieke etniese groepe in Suider-Afrika.
Mense met albinisme staar verskeie vorme van diskriminasie wêreldwyd in die gesig. Daar heers steeds verskeie misverstande rondom albinisme en die fisieke voorkoms van persone met albinisme lei dikwels tot verkeerde oortuigings en mites en bygelowe wat tot die verstoting van mense met albinisme lei.
In sommige gemeenskappe lei die verkeerde oortuigings en mites, wat sterk deur bygeloof beïnvloed word, die veiligheid en lewens van persone met albinisme in gevaar.

