LifestyleLocal newsNews

Midvaal se begroting vir 2022/2023 goedgekeur

Goeie nuus is dat Midvaal kwalifiseer vir ʼn addisionele departement wat binnekort op die been gebring sal word en aan paaie en sekuriteit gewy sal word.

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, Hoofsweep, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Op Donderdag 26 Mei 2022 het Midvaal Munisipale Raad by hul vyfde raadsvergadering van 2022 die begroting vir 2022/2023 goedgekeur. Daar was ʼn reeks openbare vergaderings waar die LBK (MMC) vir Finansies, Raadsheer Patricia Hutcheson, die gemeenskap ingelig het oor die samestelling van die begroting, wat insluit die voorgestelde verhogings in tariewe.
Na die insette van al 15 wyke en talle geskrewe terugvoerings het die Midvaal-bestuurspan hulle potlode skerpgemaak en ʼn paar aanpassings gemaak. Die belastingstariewe kon effens aangepas word om die inwoners tegemoet te kom in hierdie ekonomiese uitdagende tye en meer fondse is geskuif na die opgradering en herstel van paaie in Midvaal.

Die tariefaanpassing in Midvaal vanaf 1 Julie 2022 is 6% vir sanitasie, vullisverwydering en assesseringskoerse terwyl die verpligte NERSA-elektrisiteitsverhoging 9,8% is en waterverhoging op 8,8% te staan kom.

Na ses maande se ongekende reën, wat ‘n besonders invloed op die degenerering van grondpaaie se oppervlaktes gehad het en die herstel van grondpaaie so te sê onmoontlik gemaak het, is ʼn addisionele R25 miljoen vir paaie bewillig vir die 2022/2023 finansiële jaar. Dit is bo en behalwe die spesiale fokus op grondpaaie en addisionele kontrakteurs wat reeds in die afgelope aantal maande aangestel is en onophoudelik aan die herstel van grondpaaie werk. Mens hoef net na die plasings op sosiale media te kyk om te besef dat die reën ʼn massiewe impak op die grondpadinfrastruktuur in die hele land gehad het. Daar is egter min munisipaliteite wat bewyse kan lewer van die werk wat reeds ingesit is om dit te herstel soos die poging in Midvaal.

Indien ʼn pad nog nie herstel is nie is dit bloot omrede daar iewers anders ʼn ander pad is wat in ʼn slegter kondisie is en eerste aandag nodig het. As ʼn pad reeds aandag gekry het en weer verspoel het, moet ons ook besef dat sekere paaie so erg beskadig is dat dit totaal herbou sal moet word en dat die huidige herstelwerk soms slegs pleisters is om op die kort termyn dit vir inwoners bruikbaar te maak. Ons vra ook dat inwoners sal verstaan wanneer ʼn ander krisis opduik en ons nie by jou pad kan uitkom soos beplan nie. Ons wil regtig graag jou pad regmaak. Daar is egter ʼn ongelooflike groot masjien wat moet draai om die hele munisipaliteit aan die gang te hou. Ek vergelyk dit graag met die nar/hanswors/harlekyn wat besig is met ʼn formidabele jongleur-vertoning (juggling). Hierdie nar (en ons lag soms lekker saam oor die metafoor) het soveel balle in die lug dat dit nie ʼn kwessie is van “AS” een val nie, maar “WANNEER”, veral in ʼn geografiese groot munisipaliteit soos Midvaal met die ongelooflike klein begroting tot ons beskikking.

Die toets vir integriteit is dan te vinde in hoe die nar die bal(le) optel terwyl hy/sy steeds die ander in die lug hou. Dit is wat die verskil maak. Op dié manier moet ander dienste steeds voortgaan en ander uitdagings soos die hoogste reënval in 60 jaar in Midvaal ook die hoof gebied word.

ʼn Stukkie goeie nuus is dat Midvaal kwalifiseer vir ʼn addisionele departement wat binnekort op die been gebring sal word en aan paaie en sekuriteit gewy sal word. Hierdie afdelings sal dan afstig van hul huidige departemente en migreer na die nuwe een om onder ʼn nuwe direkteur en LBK (MMC) te funksioneer. Die wetlike prosesse hiervoor het reeds begin en sal binnekort aangekondig word.
Neem ook asb. kennis van die amnestie op aanmeld van elektristeitsmeterpeuter vanaf 23 Mei tot 23 Augustus 2022 soos in ʼn vroeër Hoofsweep Rapport berig. Vir meer inligting kontak die Kliëntediensnommer of epos na IpelengN@midvaal.gov.za.

Neem ook asb. kennis dat Midvaal onlangs volgens wet op tender moes uitgaan vir hul bankdienste en ʼn nuwe diensverskaffer aangestel is. Binne die volgende twee maande moet alle inwoners asb. hulle betalings aanpas na die nuwe NEDBANK rekening.
Midvaal Local Municipality, Rekeningnommer: 122 479 7469, Tak: Sentraal Gauteng, Takkode: 198765. Gebruik jou munisipale rekeningnommer as verwysingsnommer.
Vir meer inligting in dié verband skakel 016 360 7457/8 of stuur ʼn epos na accounts@midvaal.gov.za
Trotse Midvaal Groete, Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

Raadsheer Phil C. Pretorius

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button