LifestyleLocal newsNews

Oudburgemeester en sakeman met liefde onthou

"Ons sal hom beslis onthou vir sy harde werk en sy sin vir humor, sowel as sy groot liefde vir sy familie. Dit was vir hom ook baie vervullend om sy gemeenskap te dien."

VEREENIGING. – Een van die voormalige Vereeniging-stadsraad se laaste burgemeesters in die ou bedeling, mnr. Carel Kleynhans, is op Dinsdag, 31 Mei in die ouderdom van 92 oorlede.

Mnr. Kleynhans is op 10 November 1929 in Senekal in die Vrystaat gebore maar het sedert 1969 tot 2021 in die Vaaldriehoek gewoon, waar hy diep spore in sakekringe en plaaslike stadsraadsbestuur getrap het. Na die afsterwe van hul dogter Petro Swartz verlede jaar, het die Kleynhans-egpaar by een van hul ander dogters in Honeydew, Johannesburg, gaan woon. Hulle het in Januarie na Huis Hoëveld, ‘n Total Care-versorgingsoord, verhuis.

“Op Saterdag 28 Mei het ons hom en my ma besoek en dadelik agtergekom hy lyk moeg en asof hy net wou slaap. Maandagoggend het Matrone Nicolette ons laat weet my pa is bedlêend en ons sussies is al drie daarheen om die hele dag by hom te sit. Hy is Dinsdagoggend omstreeks 08:00 vinnig en pynloos oorlede. Hy het vroeër die week nog grappies gemaak en absoluut nooit gekla nie,” sê sy dogter, Anne.

Mnr. Kleynhans was deur die jare baie bekend in die motorhandel in Vereeniging – aanvanklik as areabestuurder vir Clows, wat destyds die agenskap vir Jaguar en Mini Cooper bedryf het. In later jare het hy saam met sy swaer Johan Rheeder hul eie tweedehandse motoronderneming, Driehoek Motors, begin en dit suksesvol bedryf tot met sy aftrede. Die sakewêreld het hom weer geroep en hy was daarna saam met sy skoonseun, André Swartz, in André’s Car Sales betrokke.

Mnr. Kleynhans is in 1984 tot raadslid van Vereeniging verkies en het vanaf 1987 tot in die middel 1990’s vir drie termyne as burgemeester van Vereeniging gedien.

“My pa was ‘n ontsettende eerlike, en gedissiplineerde mens. Ons sal hom beslis onthou vir sy harde werk en sy sin vir humor, sowel as sy groot liefde vir sy familie. Dit was vir hom ook baie vervullend om sy gemeenskap te dien. Hy was jare lank hoofouderling in die kerk – ‘n Godvresende mens wat ‘n indruk gelaat het op almal wat hy ontmoet het,” sê Anne.

“Hy kon grappies maak oor alles en ons het soms gelag dat die trane loop, hoewel hy meestal ‘n introvert met ‘n liefde vir tuinmaak was. Sy beginsels sal ons lewenslank bybly: Werk hard, en maak op jouself staat.”

Wyle mnr. Kleynhans word oorleef deur sy vrou, Magda, met wie hy 63 jaar getroud was, drie dogters, Helena, Daleen en Anne, sewe kleinkinders en twee agterkleinkinders. Hy het ook drie lewende susters, Marie, Sarah en Joey.

Die roudiens is Maandag, 6 Junie by die Avbob-kapel in Johannesburg deur ds. Jannie Redelinghuis van die NG Gemeente Arconpark waargeneem.

“Dit was so maklik om my pa lief te hê. Hy het die wêreld op sy skouers gedra. Hy gaan baie gemis word,” sê Anne.

 

Wyle mnr. Carel Kleynhans, oudburgemeester van die Vereeniging-stadsraad.

 

*******************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button