Diewe en vandale lê selfoonnetwerk lam
Diewe het tussen Maandagaand en Dinsdagoggend tussen 500 en 1000 liter diesel by 'n selfoontoring in Peacehaven gesteel.
Die diewe het tussen Maandagaand (13 Junie 2022) en Dinsdagoggend (14 Junie 2022) by die selfoontorning in Peacehaven ingebreek en tussen 500 en 1000 liter diesel uit ’n brandstoftenk op die perseel gesteel.
Diesel word by die Vodacom-selfoontoring in Golfstraat in Peacehaven gehou vir die kragopwekker.
Die kragopwekker help om die toring tydens kragonderbrekings, wat nogal gereeld in die gebied voorkom, te laat werk.
Vaalweekblad verneem die verdagtes het glo toegang tot die perseel verkry deur middel van ’n tonnel wat onder die palisadeheining gegrawe is.
Van daar af het hulle die dieseltenk dreineer en met die diesel op die vlug geslaan.
Dit is onbekend of Vodacom ’n kriminele klag aanhangig gemaak het of nog ’n klag aanhangig moet maak.
Volgens ’n bron is daar in die eerste plek nie veronderstel om ’n kragopwekker op die perseel te wees nie.
In normale gevalle skop die toring se batterye in as die krag afgaan, maar omdat vandale onlangs die kabels wat die selfoontoring (en batterye) van krag voorsien gesteel het, is die toring van die kragopwekker afhanklik.
Kontrakteurs is tans besig om nuwe kabels te lê wat hulle dan met beton sal toegooi in die hoop dat dit die diewe sal verhoed om weer die kabels te steel.
