MIDVAAL: BESTE MUNISIPALITEIT IN SUID-AFRIKA!
Ratings Afrika wys die Midvaal Munisipaliteit aan as die mees volhoubare munisipaliteit in die land
Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, DA Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Dit is met trots dat ek kan noem dat Midvaal aangewys is as die BESTE MUNISIPALITEIT IN SUID-AFRIKA (Mees volhoubaarste), aldus Ratings Afrika.
Ratings Afrika is ʼn onafhanklike agentskap wat in 2007 die regeringsevaluasies van CA-Ratings oorgevat het toe dit aan Moody’s verkoop is. Hulle spog met meer as 30 jaar se ondervinding in die lewer van hierdie klas van evaluasies en ongeveer 150 jaar se gesamentlike ervaring in die evaluasiespan (www.ratingsafika.com). Hulle evalueer jaarliks die 100 grootste munisipaliteite in die land wat die Metro’s insluit. Hul Municipal Financial Sustainability Index (MFSI) evalueer o.a.: operasionele prestasie, bates- en lastebestuur, begrotingspraktyke en likiditeit (www.ratingsafrika.com).
Ratings Afrika definieer finansiële stabiliteit as die vermoë om dienste te lewer, infrastruktuur te ontwikkel en onderhou, asook die kapasiteit om finansiële skokke (bv.: grendelstaat) te kan absorbeer. Die faktore wat volgens hulle die stabiliteit van munisipaliteite beïnvloed is o.a.: vaardighede, ervaring, finansiële dissipline, kwaliteit van die bestuurspan en ʼn sterk gegronde politieke leierskap.
Midvaal het 75% vir hierdie evaluasie verdien en is aangewys as die top munisipaliteit in SA.
Dit is noemenswaardig dat die top vier munisipaliteite in die land volgens Ratings Afrika se verslag wel deur die Demokratiese Alliansie regeer word. Dit spreek van ʼn nasionale waardesisteem van deursigtige bestuur en aanspreeklikheid wat duidelik deurskemer. Behalwe vir Midvaal, is al hierdie munisipaliteite in die Wes-Kaap. Dit maak sin dat die Wes-Kaap wat ook as provinsie deur die DA regeer word die beste ondersteuning aan hulle munisipaliteite kan lewer. Die feit dat Midvaal onder ʼn ANC provinsie steeds hierdie gesogte lys kan haal is uitsonderlik. Dit tower hersenskimme op van wat in Gauteng moontlik kan wees as die DA die provinsie kan wen in 2024.
Met die 2021 plaaslike verkiesing het Midvaal se raadslede vermeerder vanaf 29 na 30 en kwalifiseer ons nou volgens die Strukturewet vir ʼn addisionele departement wat binnekort op die been gebring sal word. Die huidige departemente is i.) Finansies, ii.) Korporatiewe sake, iii.) Ingenieurswese, iv.) Gemeenskapsdienste, asook v.) Ontwikkeling, Beplanning en Behuising. Die nuwe en sesde departement sal gewy word aan paaie en sekuriteit. Hierdie afdelings sal dan afstig van hulle huidige departemente en migreer na die nuwe een om onder ʼn nuwe Direkteur en LBK (MMC) te funksioneer. Die wetlike prosesse hiervoor het reeds in aanvang geneem en sal binnekort aangekondig word. Die nuwe departement sal voortaan bekendstaan as die Departement van Paaie en Nooddienste (Department of Roads and Emergency Services).
Midvaal verwelkom die verwikkeling aangesien die twee departemente noemenswaardige verantwoordelikhede binne die plaaslike regeringsmandaat vervul. Deur ʼn meer gefokusde en gelokaliseerde departement te skep sal die bestuur, beplanning en oorsig ʼn hupstoot kry. Beter gedefinieerde rolverdelings en posbeskrywings sal die personeelbestuur fokus vergemaklik terwyl die begroting binne die spesifieke departement gelokaliseer sal word.
Neem asseblief kennis van die AMNESTIE op die aanmeld van ELEKTRISTEITSMETER-PEUTER vanaf 23 Mei tot 23 Augustus 2022 soos in ʼn vroeër Hoofsweep Rapport berig. Vir meer inligting kontak die Kliëntediensnommer 0861 643 8225 of epos na IpelengN@midvaal.gov.za.
Neem asseblief ook kennis dat Midvaal onlangs volgens wet op tender moes uitgaan vir hul bankdienste en ʼn nuwe diensverskaffer aangestel is. Teen die einde van Julie 2022 moet alle inwoners asseblief hulle betalings aanpas na die nuwe NEDBANK rekening:
Midvaal Local Municipality,
Rekeningnommer: 122 479 7469,
Tak: Sentraal Gauteng,
Takkode: 198765.
Gebruik jou munisipale rekeningnommer as verwysingsnommer. Vir meer inligting in die verband skakel (016) 360 7457/8 of stuur ʼn epos na accounts@midvaal.gov.za
Trotse Midvaal Groete, Ph!l
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

