Nuwe slenter ’n nagmerrie vir die manne
Enigiemand wat reeds ‘n stel met die swendelaars afgetrap het of deur hulle gekontak is, word versoek om ISS-Investigations te kontak by 061 642 4908, of besoek hul webwerf by www.iss-investigations.org
MEYERTON. – Daar is geen einde aan slinkse swendelaars se kreatiewe planne om geld uit die publiek te wurg nie.
Die nuutste slenter is dat onskuldige mans deur ‘n persoon wat hom as ‘n polisieman voordoen, gekontak word met die nuus dat ‘n saak teen hulle geopen is omdat hulle na bewering van ‘n prostituut se dienste gebruik gemaak en haar boonop met vervalste geld betaal het.
Die “polisieman” bied dan aan om die saak te laat “verdwyn” in ruil vir ‘n fooitjie van tussen R2 000 en R10 000.
Buiten dié in ander dele van die land, is Vaalweekblad bewus van minstens twee Vaadriehoekse mans wat reeds slagoffers van die swendelaars was. In die mees onlangse voorval het die bedrieërs hulle egter vasgeloop toe hulle onwetend ‘n private ondersoeker van Meyerton geteiken en ook van dié oortreding beskuldig het.
Mnr. Jonathan van Rensburg, direkteur van ISS-Investigations, sê ‘n persoon wat hom as ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Parys voorgedoen het, het hom gekontak en meegedeel dat ‘n saak teen hom by die SAPD in Parys geopen is deur ‘n prostituut wat beweer dat hy (Jonathan) haar kwansuis met vervalste geld vir haar dienste betaal het.
“Ek het dadelik geweet dit is een van die scams wat tans deur ons maatskappy ondersoek word, waarin ‘n jong man reeds R5 000 verloor het.
“Ek het net vir die ou gelag en die foon vir my pa gegee, wat hom sommer dadelik op sy plek gesit het. My pa, Rodney van Rensburg, ook ‘n private ondersoeker, het dadelik die ou se besonderhede getrek en dit na die ‘polisieman’ se nommer teruggestuur,” sê Jonathan.
Die eienaar van die verdagte selnommer het onmiddellik met woede gereageer en wou weet wie die ondersoekagentskap toestemming gegee het om sy private besonderhede te trek. Dit blyk toe dat die boosdoener nie in diens van die SAPD is nie, maar wel van Eskom.
“Van die nommers wat hierdie swendelaars gebruik, behoort egter wel aan die SAPD. In sommige gevalle stuur hulle ook foto’s van die dossier, wat alles baie geloofwaardig laat lyk,” sê Jonathan.
Van die onskuldige mans wat in dié vangstrik beland het, het dan geld oorgedra sodat die dossier vernietig kan word omdat hulle vrees dat hulle nie hul onskuld sal kan bewys nie, maar Rodney en Jonathan se raad is dat mans onder geen omstandighede geld aan die bedrieërs moet betaal nie.
Enigiemand wat reeds ‘n stel met die swendelaars afgetrap het of deur hulle gekontak is, word versoek om ISS-Investigations te kontak by 061 642 4908, of besoek hul webwerf by www.iss-investigations.org.
*** OPDATERING op 14 Junie 2022: ISS Investigations sê dat meer as 40 mense wat onder dieselfde swendelaars deurgeloop het, hulle sedert verlede week gekontak het nadat die berig in Vaalweekblad se papieruitgawe verskyn het. ‘n Ondersoek is steeds aan die gang en Vaalweekblad sal binnekort verder terugvoer gee.


