Local newsNewsNews

Ongeveer 200 inwoners sê: ‘Koebaai Emfuleni, hallo Midvaal!’

Bykans 200 inwoners van Ringweg in Risiville (die laning aan Risiville se kant van Blackwoodstraat) is verledeweek amptelik tot die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit verwelkom.

VEREENIGING. – Die gedeelte was voorheen deel van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, maar is ná ’n uitgerekte proses wat meer as ’n dekade geduur het, uiteindelik deel van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit.

(Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit is onlangs deur Ratings Afrika as die beste munisipaliteit in Suid-Afrika aangewys, terwyl die sukkelende Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit langsaan as een van die land se swakste munisipaliteite beskou word).

Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit is onlangs deur Ratings Afrika as die beste munisipaliteit in die land aangewys. Foto: Google Maps

Salome Janse van Rensburg, raadslid vir Risiville,  het in ’n verklaring die burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, Peter Teixeira, lede van sy burgemeesterskomitee, sowel as die speaker, Alan McLoughlin, en amptenare bedank vir die werk wat hulle gedoen het om die oorgang te bespoedig.

Sy het ook die voormalige speaker Freddie Peters bedank vir die werk wat hy gedoen het om die proses van die oorgang in 2012 te begin.

Peter Teixeira (regs), burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, en Alan McLoughlin (links), speaker van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, beantwoord inwoners se vrae rakende die oorgang van Emfuleni na Midvaal tydens ‘n onlangse vergadering by Laerskool Risiville. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Janse van Renburg het die proses so lank geneem omdat die regte prosesse gevolg moes word en publieke deelname nodig was vir die oorgang.

Daarbenewens was daar glo ook probleme omdat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit volgens die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit die oorgang vertraag het.

Die amptelike oorgang het op 5 Junie plaasgevind.

Inwoners van Ringweg in Risiville het lank gewag vir hierdie dag. Foto: Christiaan Cloete

Lynette Botha, ’n inwoner van Ringweg, het aan Vaalweekblad gesê sy is reeds baie ingenome met die diens wat sy tot dusver van haar nuwe munisipaliteit (die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit) af ontvang het.

Volgens Botha het sy verlede week die Midvaal Plaaslike Munsipaliteit gebel oor kragprobleme en die munisipaliteit het dit binne ’n paar uur uitgesorteer.

Volgens Botha, wat nou al ongeveer 5 jaar in die huis bly, het sy voorheen baie gesukkel met die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en het hulle soms dae gevat om probleme soos dié uit te sorteer.

Inwoners sal volgens Janse van Rensburg  in Junie hul finale water- en ligterekening van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit ontvang.

Volgens Janse van Rensburg is Midvaal besig met die finale oudit vir ELM elektrisiteit en watermeters.

Inwoners wat navrae het rakende die oorgang kan vir Salome Janse van Rensburg (wyksraadslid van wyk 2 van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, Risiville) by 082 212 4520 kontak. Foto: Christiaan Cloete

Die munisipaliteit sal vanaf 1 Julie af nuwe elektrisiteitsmeters en watermeters installeer en inwoners sal voortaan hul water en ligterekening aan die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit betaal.

Die proses om nuwe meters te installeer sal in Julie plaasvind en kan moontlik tot einde Augustus duur.

Inwoners wat navrae het rakende die oorgang kan vir Salome Janse van Rensburg (wyksraadslid van wyk 2 van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, Risiville) by 082 212 4520 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button