Man in veld gevind – ‘Sy voete gaan dalk geamputeer moet word’
VANDERBIJLPARK. - Die bejaarde man wat verlede Donderdag half verkluim in ‘n veld deur lede van AfriForum gevind is, se voete sal moontlik weens ‘frostbite’ geamputeer moet word.

Die 70-jarige man wat tans net as oom Stan geïdentifiseer is, was byna verkluim en na aan die dood toe hy gevind is. Hy het geen komberse of warm klere gehad om hom teen die ysige koue van die vorige aand te beskerm nie.
Intussen het Huis Eliznette oom Stan met ope arms ontvang, ten spyte van die feit dat hulle geen idee gehad het of hy gaan oorleef nie.
Volgens Alta du Plooy van AfriForum het personeel van Huis Eliznette oom Stan “sagkens gebad, warm aangetrek en ‘n bed met warm komberse in sy eie kamer gegee.”
Oom Stan is egter baie swak en eet byna niks nie. Hy wil tans glo net rus in sy warm bed en sê gereeld “thank you very much.”
Geen familie kon opgespoor word om hom te help nie.

“Ons gaan nog ‘n baie lang paadjie stap met die oompie. Sy voete is swart, moontlik ‘frostbite’ en daar is beslis ‘n moontlikheid dat hy albei sy voete kan verloor,” sê Alta.
“n Staatshospitaal is tans buite die kwessie. Daar is intussen genoeg klere vir oom Stan geskenk, maar finansiële bydraes is nou nodig vir sy versorging en mediese kostes.
“Elke R5 maak ‘n verskil. Enige kos skenkings sal ook waardeer word,” sê Alta.
* Om ‘n bydrae te maak kan ‘n WhatsApp na Alta by 064 902 8710 gestuur word vir Huis Eliznette se bankbesonderhede.
