Local newsNewsNews

Tersia Venter leef om te help

Tersia Venter laat haar deur niemand stuit nie en is altyd op ‘n missie. Lees meer oor die dinamiese vrou met die sagte hart

VEREENIGING. – Tersia Venter is ‘n kampvegter vir reg en geregtigheid. Sy glo aan die pay it forward beginsel en help altyd waar sy kan.

“Ek is ‘n aktivis,” beduie sy en lag oor die benaming waarmee Klippies Kritzinger van die Golden Triangle Chamber of Commerce haar eenkeer beskryf het.

Tersia en die anker in haar lewe, haar man, Retief Venter. Foto: verskaf

Tersia is ‘n natuurlike leier wat hou van organiseer en om mense bymekaar uit te bring. Sy sal self kos en pakkies uitdeel as dit moet, maar verkies om meer in die agtergrond te bly.

“Ek is maar altyd doenig met die een of ander gemeenskapsprojek. My man en seun het al my foon op “silence” gesit sonder my medewete net sodat ek ook rustige gesinsaande kan hê,” lag sy.

Sy is ‘n gebore Vrystater en het in Bloemfontein grootgeword. Haar man, Retief, het regte aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.

Daarna het hy eers vir drie jaar in Bethal gaan werk voordat hulle in 1993 na Vereeniging verhuis het.

Tersia saam met Kobus Hoffman (links) en Pierre Wheeler by ‘n massa patrollie in 2020

“Ek is nie seker wanneer of hoe het dit gebeur nie, maar ek het die plek liefgekry. Dit het nog nooit by my opgekom om hier te trek nie. Jy weet as die Vaaldriehoekers jou eers ken en vertrou, dan werk mens lekker saam,” gesels sy terwyl ons koffie drink langs die Vaalrivier.

“Kyk net hoe mooi,” beduie sy na die uitsig, “jy weet ek moet altyd die mooi in alles sien. Ek noem dit my Jesus-bubble. Ek hou negatiwiteit buite.”

Nie dat dit altyd maklik is nie. Vanweë haar uitgesprokenheid en die feit dat sy nie twee keer dink om enige een trompop te loop as sy dink iets moet verander nie, haal sy haar baie strawwe kritiek op die hals.

“Ag man, almal weet ek werk in ‘n moeilike gemeenskap. Mense vra soms hoekom doen jy dit, dit gaan tog nie help nie? Dan sê ek nonsens, elke klein bietjie wat jy doen, maak ‘n verskil!”

Sy reken mense moet minder teen die slegte goed vaskyk, ophou oordeel en net inspring en begin doen.

Tersia en haar “skoothondjie” Lappies.

“Ek het nou die dag vir ‘n man gesê begin deur die plastiese sakke voor jou eie erf op te tel. As daar weer sakke gegooi word, dan was dit ten minste vir ‘n rukkie mooi vir jou en vir ander wat daar verby ry. ‘n Mens moet êrens begin.”

Tersia doen wat sy kan, wanneer sy kan omdat sy van nature ‘n gewer is. “Ek gee liefde want ek kan. Ek doen niks om iemand te probeer beïndruk nie,” verklaar sy beslis.

Sy haat dit as daar gesloer word met iets en voel altyd om net in te spring en die werk gedoen te kry.

“Gelukkig het ek begin besef ek kan op my vriende en ander kennisse se knoppies druk in tye van nood. Jy weet, dis verbasend hoe maklik mense help in die Vaaldriehoek. Hulle moet net gevra word.”

Wanneer sy nie kospakkies uitdeel, met die munisipaliteit baklei, die Gemeenskapspolisiëringsforum organiseer of ‘n oog hou oor die Wykskomitee nie, dan is sy betrokke by 50 Shades of Spay.

Tersia is baie lief vir honde en vir haar eie vier vierpotige kinders sal sy byna enige iets doen. Dan is sy ook ma van ‘n seun en dogter, albei al uit die huis, en ouma van twee kleindogters.

Ontspan beteken vir haar om te verf. “Ek tel mos enige iets van die straat af op en verf dit. Ook die dat ek met die bakkie rondry, want daar is altyd iets wat ek wil optel, red of moet gaan aflaai.”

Dis Tersia, onverskrokke kampvegter met die sagte hart wat dit haar lewensmissie gemaak het om mense weer hoop te gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button