‘Konsentrasiekampdag’ in Vereeniging herdenk
Terwyl die res van die land 'Jeugdag' gevier het, het 'n paar Afrikanerorganisasies Donderdag 16 Junie by die Vereeniging Konsentrasiekamp Begraafplaas byeengekom om 'Konsentrasiekampdag' te herdenk.
VEREENIGING. – Volgens Barry Müller, die FAK se kultuurkoördineerder vir die noorde van die land, word Konsentrasiekampgag elke jaar op 16 Junie gehou ter herinnering aan die Verskroeideaardebeleid wat deur lord Roberts ingestel is en later deur Horatio Kitchener uitgebrei is gedurende die Tweede Vryheidsoorlog.
Die dag word gebruik om die nagedagtenis van die Afrikanervroue en kinders wat in Britse konsentrasiekampie gesterf het te herdenk.
Volgens hierdie beleid is Boere se plaashuise en lande verbrand, vee doodgemaak en vroue en kinders na konsentrasiekampe gestuur waar talle van hulle gesterf het van die honger en ‘n gebrek aan mediese dienste.
Die dag se verrigtinge het begin met ‘n gebed en ‘n paar toesprake en het ‘n ‘vlagplant’-seremonie, opvoerings, danse ingesluit voor ‘n kranslegging gehou is.
Later is daar saam om die braaivleisvuur gekuier.




