Onse hartpasiënt, Mialinke (5) is tuis!
Mialinke - ons is trots op jou en dink aan jou!
VANDERBIJLPARK. – Mialinke Niemand (5) het op 6 Junie haar derde hartoperasie ondergaan.
Die operasie het seepglad verloop en die dokter is baie tevrede. Sy is op Woensdag, 15 Junie ontslaan.

Al waarmee daar vir ‘n wyle gesukkel is, is om al die vog wat in haar lyfie opgebou het te dreineer.
Gelukkig is die laaste dreinpyp ook nou uitgehaal. Mialinke sal Vrydag gaan vir ‘n bors x-straal en haar steke van haar sny se drein sal dan ook uitkom.
Die pleister sal nog vir ‘n week op bly. Haar ma, Janita het laat weet Mialinke se sny is maar baie seer en sy moet haar nog rustig gedra.
Die dapper jonge dame het almal verras en het sommer vinnig in die hospitaal gestap saam met haar fisioterapeut.
Mialinke is ook nou op ‘n streng baie lae vet dieet geplaas vir die volgende drie maande.
“Ons is oorweldig deur al die boodskappe en motivering wat ons van almal kry. Baie dankie. Ons kan nie altyd almal antwoord nie, maar waardeer elke een,” het Janita gesê.
