Local newsNewsNews

Gautengse misdaadstatistiek: Moordsyfer vir vroue en kinders styg dramaties

Moord op kinders het gedurende Januarie tot Maart vanjaar met 80% gestyg, terwyl moord op vroue ook met 48% gestyg het. Van Januarie tot Maart 2021 is 127 vroue vermoor en vanjaar 189.

GAUTENG. – Dit is volgens die nuutste misdaadsyfers wat deur die Gautengse provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, uitgereik is.

Die Vryheidsfront Plus het in reaksie hierop gesê dat misdaadvlakke wys dat die ANC-regering nie daadwerklik genoeg doen om veral misdaad teen vroue en kinders te laat afneem nie.

Die uitreiking van die misdaadsyfers volg op Nasionale Kinderbeskermingsweek, 29 Mei tot 5 Junie waartydens die polisie en ander organisasies ‘n bewusmakingsveldtog van stapel gestuur het om die publiek bewus te maak van die geweld teen vroue en kinders.

Kobus Hoffman, VF Plus lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng sê dit blyk of misdadigers beslis besig is om die oorhand te kry. Dit word duidelik weerspieël in die jongste misdaadstatistiek waar alle ernstige misdade ‘n opwaartse kurwe toon.

Volgens die nuutste syfers het poging tot moord met 150% gestyg.

Van Januarie tot Maart 2021 is 25 kinders in Gauteng vermoor, terwyl in die ooreenstemmende tydperk vanjaar 45 kinders tussen die ouderdomme van 0 tot 17 jaar vermoor is.

Poging tot moord het van 28 tot 70 in die eerste drie maande toegeneem.

Die algemene moordsyfer staan nou op 45.2%.

Van Januarie tot Maart verlede jaar is 966 moorde aangemeld en vanjaar gedurende dieselfde tydperk 1 403.

Aanranding met die opset om te beseer het van 8 323 tot 9 687 gestyg en aanranding van 10 706 tot 12 280.

Inbrake en diefstal bly ‘n probleem, ongeag eie sekuriteitsmaatreëls. Inbrake by huise het toegeneem en so ook die diefstal van motorfietse en motorvoertuie.

Kommersiële misdaad het van 7 623 tot 8 753 gestyg wat die syfer op 14.8% bring. Hoffman sê: “Die agteruitgang in die polisie word toegeskryf aan die verlies van kundigheid weens regstellende aksie, die nuttelose verkrygingsbeleid weens uitgerekte prosesse, gebrekkige opleiding, polisielede wat nie ten volle toegerus is nie en ‘n permanente tekort aan voertuie.

“Die VF Plus pleit reeds jare by die provinsiale kommissaris om spesialiseenhede weer terug te bring.

Kommissaris Mawela kan nie langer inwoners van Gauteng met leë beloftes paai nie.

Dit is tyd dat die ANC-regering erken hulle het die mense van Gauteng gefaal.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button