Vaal dansers presteer, fondse benodig vir wêreldbeker deelname
Welgedaan aan die dansers. Altyd lekker om te sien as die Vaaldriehoekers presteer.
VAALPARK. – Georgina’s Dance Studio se dansers het weer puik presteer by die onlangse Dance World Cup Qualifier wat in Centurion gehou is.
Die Neo Kontemporêre Dansgroep bestaande uit 12 leerlinge het gekwalifiseer vir die Dance World Cup wat in Spanje gehou gaan word, saam met die Spaanse Duet duo, Cebisile Banda en Stephanie Vey. Die duo het ‘n goeie tweede plek behaal.

Cebisile het egter met haar Spaanse dans solo almal aan haar voete gehad en vir haarself goud en ‘n plek in die SA span losgedans.
Die groep wat SA gaan verteenwoordig vertrek op 25 Junie na San Sebastian in Spanje waar hul vir 10 dae teen die wêreld se beste dansers in hul onderskeie kategorieë gaan deelneem.

Dansafrigter, Georgina Jacobs is baie trots op Cebisile ‘n graad 10 leerling aan Hoërskool Vaalpark High School.
“Ek gun haar die geleentheid om haar danstalent by die wêreld dans beker te gaan ten toon stel. Sy het regtig talent en het onlangs ook 94% in haar Internasionale Spaanse Eksamen behaal.”
Vir Cebisile en hul assistent afrigter, Kayleigh Adams, om in Spanje te gaan deelneem word daar heelwat fondse benodig.

Georgina sê die registrasiefooie is reeds betaal en hulle het ook borge gekry wat instaan vir die vliegtuigkaartjies.
Op die oomblik konsentreer hulle om fondse in te samel vir die verblyf in Spanje.
Daar word juis ‘n fondsinsamelingsgeleentheid gehou op Saterdag, 18 Junie 2022 by Eco Coffee buite Vanderbijlpark.
Die verrigtinge begin om 14:30. Frans Geldenhuis sal musiek verskaf en die dansers van Georgina’s Dance Studio sal ook optree.
Kaartjies beloop R290 per persoon en sluit verversings in. Vir besprekings of donasies, kontak vir Georgina 082 459 6356.

Georgina het die volgende borge bedank wat reeds bydraes gemaak het, Ashmini Singh van SST Attorneys, Henk Human van Rejuvination Community Trust, GP Conrol Vales & Engineering Pty Ltd en Riaz Choonara.
